Nuus 13:00
BULLETIN 29 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Suid-Afrika sê aan Internasionale Geregshof Israel tree straffeloos op in besette Palestina
# ActionSA dreig met regstappe oor geheime Phala Phala-verslag
# En, die ANC verdedig minister van Finansies terwyl EFF sy bedanking eis
# Suid-Afrika het die Internasionale Geregshof meegedeel dat Israel straffeloos optree in besette Palestynse gebiede en doelbewus hulp aan Gaza blokkeer. Die Hof hou hierdie week openbare verhore oor ‘n versoek vir ‘n raadgewende mening oor Israel se verpligtinge ingevolge internasionale reg. Die direkteur-generaal van die Departement van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Zane Dangor, het in ‘n mondelinge voorlegging in Den Haag in Nederland, gesê dit het die streek na hongersnood gedryf en verteenwoordig volksmoord en apartheid:
# ActionSA sê hy sal hof toe gaan, indien nodig, om die vrystelling van die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat se verslag oor die diefstal by president Cyril Ramaphosa se Phala Phala-plaas in Limpopo af te dwing. Die party het ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting ingedien nadat minister van Polisie, Senzo Mchunu, die verslag as hoogs-geheim bestempel het. Michael Beaumont van ActionSA sê die regering van nasionale eenheid misluk daarin om president Ramaphosa tot verantwoording te roep:
# Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê oproepe dat die minister van Finansies, Enoch Godongwana moet bedank, is ongeregverdig, tensy dit verband hou met beleids- of regsmislukkings. Dit volg ná die EFF se eis dat hy bedank nadat die hof ‘n BTW-verhoging opgeskort het. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het ook die Parlement se vroeëre aanvaarding van die fiskale raamwerk omgekeer. Bhengu-Motsiri sê Godongwana het nie sy ampseed oortree nie en die ANC verwelkom die hofuitspraak oor die BTW-verhoging.
# Krieket: Die Internasionale Kriekeraad het die Engelse span se kaptein Ben Stokes se versoek verwerp vir die hersiening van strafpunte wat opgelê word indien boulbeurtkoerse nie behaal word nie. Dit volg nadat Engeland en Nieu-Seeland verlede Desember in Christchurch met drie Wêreldtoetskampioenskap-punte gestraf is en al hulle spelers 15-persent van hulle wedstrydfooie moes inboet. Die IKR se raad het die bestaande reëls behou wat boetes en punte-aftrekkings op spanne oplê wat nie teen ‘n gemiddelde van 15 boulbeurte per uur in die Wêreldtoetskampioenskap in Junie boul nie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-53-sent teen die dollar, 21-rand-10-sent teen die euro en 24-rand-86-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-981-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-312-dollar-4-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-99-sent per vat.
# En laastens, die Amerikaanse Longvereniging se 2025-verslag oor die toestand van lug toon dat ongeveer 156-miljoen Amerikaners, wat byna die helfte van die bevolking is, in gebiede met ongesonde vlakke van lugbesoedeling woon. Dit is ‘n toename van 25-miljoen mense vanaf die vorige jaar, die hoogste in ‘n dekade. Die verslag skryf die styging toe aan faktore soos uiterste hitte, veldbrande en droogte, wat alles gekoppel is aan klimaatsverandering. Gemeenskappe van kleur word buite verhouding die meeste geraak, met Latyns-Amerikaners wat byna drie keer meer geneig is om beide osoon- en deeltjiebesoedelingstowwe in te asem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….