Nuus 12:00
BULLETIN 29 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Cosatu vra tesourie om nie belangrike toewysings in die begroting te besnoei nie
# Brandbestyders veg steeds teen brand by Tokai
# En, Jemen se Houthi’s beweer tientalle sterf in Amerikaanse lugaanval op tronk met Afrika-migrante
# Cosatu sê Nasionale Tesourie moet die emosionele en nuttelose versoeking weerstaan om belangrike toewysings in die begroting te besnoei. Dit sluit in die bevriesing van die brandstofbelasting, die uitbreiding van kossoorte wat van BTW uitgesluit is, en maatskaplike toelaes bo inflasie. Dit volg nadat die Wes-Kaapse Hooggeregshof die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunt opgeskort het. Cosatu-woordvoerder, Matthew Parks, sê hulle gaan voort om met Tesourie, die regering en die Parlement te onderhandel:
# Die Stad Kaapstad se brand- en reddingsdienste sê twee helikopters is weer vanoggend ontplooi om die brand in die Tokai-gebied op Tafelberg te bestry. Talle paaie is gesluit weens die brand in die suidelike Skiereiland, wat Westlake- en Boyes-rylaan, en Hoofweg en Clairvaux-rylaan insluit. Die brandweerdiens se woordvoerder, Jermaine Carelse, sê die brand is nog nie onder beheer nie, en kommer bestaan dat die twee vuurlyne na Chapmanspiek versprei:
# Jemen se Houthi-rebelle het Maandag beweer minstens 68 mense is dood en nog 47 gewond toe ‘n tronk met Afrika-migrante in Saada in ‘n Amerikaanse lugaanval getref is. Dit was die jongste aanval in die land se oorlog van tien jaar teen migrante van Ethiopië wat die risiko neem om deur Jemen na die naburige Saoedi-Arabië te reis om werk te probeer kry. Aktiviste sal nou waarskynlik weer Amerika se operasie “Rough Rider” bevraagteken wat die rebelle geteiken het. Amerika se weermag het nie onmiddellik op vrae van Associated Press gereageer nie.
# Rugby: SA Rugby het sy vennootskap met Spur Steak Ranches vir ‘n verdere vier jaar hernu. Die borgskap het in 2022 begin. Uitvoerende hoof van SA Rugby, Rian Oberholzer, sê Spur, as ’n ikoniese en geliefde plaaslike handelsmerk, se verbintenis met die groen en goud is een wat gesmee is in die Suid-Afrikaanse aard van albei handelsmerke. Hoofbemarkingsbeampte van Spur, Vuyo Henda, sê hulle is veral trots om die ondersteuning uit te brei na die vroue- en junior spanne, om opkomende sterre te vier en die volgende generasie te inspireer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 21-rand-12-sent teen die euro en 24-rand-87-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-94-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-315-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-97-sent per vat.
# En laastens, Boulders-strand naby Kaapstad het van die 40ste plek in 2023 tot die 12de plek geklim op die 2025-lys van die wêreld se 50 beste strande. Die strand word erken vir sy warm water, goue sand en Afrika-pikkewyne wat aan besoekers ‘n magiese ondervinding bied. Dis is ook bekend vir sy beskutte inhamme en besondere natuurlewe-ervarings vir toeriste en plaaslike besoekers. Cala Goloritzé in Italië is boaan die lys, gevolg deur Entalula-strand in die Filippyne en Thailand se Bang Bao-strand.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….