Oggendkoerant-verslag
Die hooftrekke uit die belangrikste nuusblaaie soos op 29 April 2025:
NASIONAAL:
# Business Day:
Berig die afskaffing van die BTW-verhoging baan die weg vir die Tesourie om ‘n derde begroting vir die 2025/26-boekjaar saam te stel, met die DA wat na verwagting druk op die departement sal verhoog om sy begrotingsprioriteite toe te pas.
# En die Netwerk24-webblad:
Berig eerstens oor die verwoestende brand wat in die Tafelberg Nasionale Park uitgebreek het en nou ook tot in Noordhoek en Kalkbaai versprei het. Brandspanne het deurnag gewerk, maar die brand in Tokai is steeds nie onder beheer nie.
Tweedens skryf die webblad oor die reuse-kragonderbreking wat Spanje en Portugal lamgelê het.
En laastens is daar nuus oor die inwoners van Bloemhof en Christiana wat gespanne sit en wag om te kyk hoe ver die Vaalrivier gaan styg.
GAUTENG:
# The Star & Pretoria News:
Skryf EFF-president Julius Malema het by die koor aangesluit wat eis dat Godongwana, en sy direkteur-generaal, Duncan Pieterse, moet bedank weens die BTW-debakel.
# Sowetan:
Berig die polisie het hul soektog ook na ander provinsies uitgebrei ná die raaiselagtige verdwyning van konstabels Linda Cebekhulu, Keamogetse Buys en Boipelo Senoge.
# En The Citizen:
Lei met: “NOW FOR THE NEW BUDGET”. Die koerant skryf die minister van Finansies, Enoch Godongwana moet van nuuts af somme maak.
WES-KAAP:
# Die Burger:
Het dieselfde hoofberig as Netwerk24 oor die Tafelberg-brand.
En tweedens word berig twee bekendes in die Suid-Kaapse vissersbedryf, Rikus Bester en Robert Hemphill, is in ‘n bootongeluk dood by Gouritsmond tussen Stilbaai en Mosselbaai.
OOS-KAAP:
# The Herald in Gqeberha:
Berig die Humansdorp Provinsiale Hospitaal is besig om in ‘n oorlogsone te verander terwyl bendegeweld van die strate na die hospitaal oorspoel.
En tweedens skryf die koerant polisiebeamptes in Nelson Mandelabaai werk in verslete klere, dra vervalde koeëlvaste baadjies, het nie genoeg voertuie nie en betaal uit hul eie sakke vir toiletpapier.
KWAZULU-NATAL:
# The Witness in Pietermaritzburg:
Skryf beroepe word uit verskillende oorde gedoen dat die minister van Finansies moet bedank.
En berig al hoe meer voorvalle kom voor van veediewe wat bees- en skaapwagters vermoor.
En ten slotte uit NAMIBIË:
# Republikein in Windhoek:
Berig president Netumbo Nandi-Ndaitwah het Sondag besoek gebring aan die vermoorde Ingrid Maasdorp se ouma Dolly in Okahandja. Sy het die owerhede se optrede ná die moord bevraagteken.
En tweedens skryf die koerant die voormalige meesterjaggids wat kort-kort in die hof is, Brian Roodt van Quality Hunting Safaris, is weer in die sop.