Nuus 07:00
BULLETIN 29 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Julius Malema sê die EFF sal enige mosie van wantroue teen president Ramaphosa ondersteun
# Die Parlement sê Suid-Afrika moet homself nie vereenselwig met lande wat nie sy nasionale belange dien nie
# En president Putin kondig ‘n driedaagse wapenstilstand aan
# EFF-leier Julius Malema sê hulle sal enige mosie van wantroue teen president Cyril Ramaphosa ondersteun ná die omstrede kwessie oor die BTW-verhoging. Die Wes-Kaapse Hooggeregshof het die beplande BTW-verhoging van 0,5-persent opgeskort en ook die Parlement se aanvaarding van die fiskale raamwerk ongeldig verklaar. Malema sê ten spyte van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, se rol in die BTW-debakel, moet Ramaphosa uiteindelik die blaam dra:
# Die kommissaris van die Grensbestuursowerheid, Michael Masiapato, sê hulle het sesduisend-253 mense aangekeer wat oor die Paastyd Suid-Afrika by 71 toegangspunte onwettig binnegekom of verlaat het. Dit is 61-persent meer as dieselfde tyd in 2024 toe drieduisend-841 aangekeer is. Masiapato sê ongeveer vierduisend-800 van hulle het nie die nodige dokumente gehad nie, ongeveer eenduisend-55 was ongewens en 403 is om ander redes nie in die land welkom nie:
# Die parlementêre gekose komitee oor Ekonomiese Ontwikkeling en Handel sê Suid-Afrika moet strategiese bande smee met lande soos Oekraïne, eerder as om vas te klou aan ou vennootskappe wat nie die land se belange dien nie. Dit volg ná president Volodymyr Zelensky se eerste staatsbesoek verlede week aan Suid-Afrika. Die komitee-voorsitter, Sonja Boshoff, sê om regstreekse buitelandse belegging te lok, uitvoergeleenthede uit te brei en werkskepping te bevorder, moet sterker, waardegedrewe bilaterale bande gesmee word.
# Die United Democratic Students’ Movement in die Oos-Kaap het die aanstelling van afgetrede regter Chris Jafta as leier van die Kommissie van Ondersoek na die skietvoorval verlede maand by die Walter Sisulu Universiteit verwelkom. ’n Student is dood en twee ander is gewond. Manyano Njikela van UDESMO sê hulle vertrou dat die kommissie sy werk deeglik en sonder inmenging sal verrig:
# Die Russiese president, Vladimir Putin, het ‘n driedaagse skietstilstand in die oorlog teen Oekraïne afgekondig wat van 8 tot 11 Mei sal duur. Dit val saam met die 80ste herdenking van die Sowjetunie se oorwinning in die Tweede Wêreldoorlog. Die Kremlin sê alle vyandelikhede sal in dié tydperk opgeskort word, maar voeg by indien Oekraïne die skietstilstand oortree, sal gewapende magte doelgerig reageer. In reaksie het Oekraïne se minister van Buitelandse Sake, Andrii Sybiha, ʼn onmiddellike skietstilstand van minstens 30 dae gevra.
# Rugby: Springbok-slot RG Snyman oefen weer voluit in aanloop tot Leinster se halfeindwedstryd Saterdag teen Northampton Saints in die Kampioenebeker. Die Wêreldbeker-wenner het twee weke gelede ʼn beenbesering opgedoen in die kragmeting teen Ulster. Leinster se hoofafrigter, Leo Cullen, sê Snyman is beskikbaar nadat hy van die besering herstel het. Ierland se internasionale voorspeler, Ryan Baird, is ná ʼn besering ook weer gereed vir aksie nadat hy die naweek se wedstryd sonder probleme voltooi het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-50-sent teen die dollar, 21-rand-10-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 95-duisend-17-dollar-70-sent. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-90-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-54-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….