Nuus 13:00
BULLETIN 28 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Mchunu verwelkom die hoëvlak-ondersoek na die verdwyning van drie polisiekonstabels
# Eerste twee windplase van Bodvenster 5 lewer uiteindelik krag aan die netwerk
# En, Donald Trump vra Vladimir Putin moet gaan sit en ‘n ooreenkoms oor Oekraïne onderteken
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, sê sy departement het volle vertroue in die span wat die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, saamgestel het om die verdwyning van drie polisiekonstabels te ondersoek. Die woordvoerder van die ministerie, Kamogelo Mogotsi, sê Linda (uitspraak: Lienda) Cebekhulu, Keamogetswe Buys en Boipelo Senoge is Woensdag laas by die Engen-garage naby die Grasmere-tolplaza langs die N1 gesien:
# Die nasionale polisiekommissaris, Fannie Masemola, sê intussen hulle bied ‘n beloning van 350-duisend rand aan vir enige inligting oor waar die drie vermiste polisiekonstabels hulle bevind. Hy sê iemand moes êrens iets opgemerk het, veral sedert hulle die Engen-garage naby die tolplaza verlaat het:
# Twee windplase in die Karoo – Rietkloof en Brandvallei – het krag aan Suid-Afrika se kragnetwerk begin lewer. Dit is die eerste twee windplase van die vyfde ronde van die regering se verkrygingsprogram vir onafhanklike produsente van hernubare energie wat in werking kom. Die plase strek oor altesaam 16-duisend-200-hektaar en beskik elk oor 32 windturbines met ‘n gesamentlike opwekkingsvermoë van 288 MegaWatt. Die energie sal jaarliks 367-duisend huishoudings van krag kan voorsien. Bodvenster 5 is in 2021 van stapel gestuur en was die mees koste-mededingende ronde waarin meer as 100 tenders ingedien is.
# Donald Trump sê hy is baie teleurgesteld met Rusland oor sy aanvalle op Oekraïne, ook dié in Kiëf waar nege mense Vrydag dood is. Amerika se president was in die Vatikaan in gesprek met Volodymyr Zelensky in hul eerste persoonlike ontmoeting sedert hul uitval in die Withuis. Oekraïne se president sê die vergadering kort voor Pous Franciskus se begrafnis kan geskiedkundig wees. Trump sê hy dink Zelensky wil ‘n ooreenkoms aangaan. Hy sê hy wil hê Putin moet ophou skiet, gaan sit en ‘n ooreenkoms onderteken.
# Tennis: Alexander Zverev glo daar was ‘n fout met die elektroniese stelsel vir lynbeslissings tydens sy oorwinning in die Madrid Ope op Sondag. Die Duitser kon ‘n stewige boete ontvang nadat hy sy foon uitgehaal vir ‘n foto van ‘n betwiste beslissing. Hy was ontevrede toe die tegnologie getoon het ‘n rughandhou van sy teenstander was wel in. Zverev sê hy is ‘n aanhanger van die tegnologie maar was geskok deur die voorval in Madrid. Die ATP het vanjaar die lynbeslissingstelsel vir al sy toernooie ingestel.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….