Nuus 09:00
BULLETIN 26 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Eskom sê hy het genoeg elektrisiteit vir die langnaweek
# 10 sluise by die Vaaldam is oop nadat watervlakke vinnig styg
# En tennis, Zverev en Sabalenka behaal oorwinnings maar Raducanu is uitgeskakel by die Madrid Ope
# Eskom sê daar is die afgelope 24 uur drie-duisend-320 megawatt opwekkingsvermoë herstel wat genoeg is om in die langnaweek se vraag te voorsien. Die kragvoorsiener het Donderdagmiddag fase 2-beurtkrag ingestel na verliese by eenhede en groter as verwagte aanvraag. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê daar is genoeg noodreserwes wat indien nodig strategies gebruik sal word om aan die vraag tydens spitstye te voldoen:
# Die Suid-Afrikaanse Reserwebank se Omsigtigheids-owerheid het Absa met tien-miljoen-rand beboet omdat hy nie voldoen aan artikels van die Wet op die Finansiële Intelligensie-sentrum nie. ‘n Ondersoek het in 2022 bevind Absa het sommige hoë risiko-kliënte nie behoorlik nagegaan nie, insluitend mense met politieke bande. Die bank het ook nagelaat om duisende waarskuwings oor ongewone transaksies betyds te hanteer. Absa is twee keer gewaarsku en ook berispe. Die owerheid sê die bank het sedertdien stappe gedoen om die probleme op te los.
# Die Departement van Water en Sanitasie sê tien sluise van die Vaaldam is tans oop. Aanhoudende, bogemiddelde reënval in die reeds versadigde opvangsgebiede veroorsaak ‘n groot invloei van water. Die departement se woordvoerder, Wisane Mavasa, sê die Vaal- en Bloemhofdam is tans onderskeidelik 119,68- en 111,87-persent vol. Sy sê nog water word verwag en die uitvloei kan vandag moontlik toeneem:
# Virginia Giuffre wat die Amerikaanse finansier, Jeffrey Epstein, en prins Andrew van seksuele mishandeling beskuldig het, het selfdood gepleeg. Die 41-jarige Australiër het Epstein en Ghislaine Maxwell in die openbaar van mensehandel beskuldig en beweer sy is gedwing om met hul vriende, insluitend prins Andrew, seks te hê toe sy 17 jaar oud was. Die hertog van York het die bewerings herhaaldelik ontken. Polisie in Wes-Australië sê Giuffre se dood word ondersoek en volgens vroeë aanduidings is haar dood nie verdag nie.
# Tennis: Die tweemalige kampioen, Alexander Zverev, is deur na die Madrid Ope se derde ronde. Die Duitser het Roberto Bautista Agut van Spanje met 6-2, 6-2 afgeransel om sy sesde agtereenvolgende oorwinning te behaal. Die derde-gekeurde Amerikaner, Taylor Fritz vier sy terugkeer na die ATP-toer met ʼn sege oor die Australiër, Christopher O’Connell. Die Noorweër Casper Ruud klop die Fransman Arthur Rinderknech met 6-3, 6-4. In die vroueafdeling het die topgekeurde Bulgaar, Aryna Sabalenka met die Rus, Anna Blinkova, afgereken terwyl die Brit, Emma Raducanu, teen Marta Kostyuk van Oekraïne verloor het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….