Nuus 07:00
BULLETIN 26 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana verwerp oproepe dat hy bedank
# Pous Franciskus word vandag ter ruste gelê
# En rugby, die Bulle verslaan die verdedigende kampioene Glasgow Warriors in die VRK
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, verwerp oproepe dat hy bedank nadat hy die beplande BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte omgekeer het. Die voorstel dat BTW oor twee jaar met een-persent verhoog word, moes die staatskas aanvul, maar het teenstand gekry van sommige politieke partye en die sakesektor. Die skrapping laat ‘n tekort van 75-miljard-rand in die fiskus. Godongwana het aan Reuters gesê sy werk is om geld in te bring en sy besluite hoef nie gewild te wees nie.
# Die DA sê hy het suksesvol gesorg vir ‘n hersiening van die swart ekonomiese bemagtigingsraamwerk. Verslae wat deur die Parlement se portefeuljekomitee oor Handel, Nywerheid en Mededinging aangeneem is, beklemtoon kommer oor kaping deur die elite en die beperkte uitwerking van SEB op werkskepping. Toby Chance van die DA vra ’n onafhanklike hersiening en beklemtoon die behoefte vir ’n nuwe benadering tot ekonomiese hervorming, veral met die komende Transformasiefonds:
# Die Gautengse Departement van Gesondheid veroordeel die onregmatige gedrag van sommige gemeenskapslede wat pasiënte toegang tot die Kalafong-hospitaal verbied het. Vir die afgelope paar dae is daar mense wat identiteitsdokumente by die hek geëis het. Motalatale Modiba van die departement sê niemand het die reg om ‘n ander persoon te verhoed om gesondheidsorg te ontvang nie:
# Hooggeplaastes van reg oor die wêreld, asook tienduisende roubeklaers word vanoggend by die Sint Petrusplein in Rome verwag vir pous Franciskus se begrafnis. Die 88-jarige pous is Maandag dood na ʼn beroerte en hartversaking. Mense kon van Woensdagoggend af hul eer betoon terwyl die pous se liggaam by die Sint Petrus-baseliek in ʼn oop houtkis in staatsie lê. Hy word by die Santa Maria Maggiore-baseliek begrawe.
# Rugby: Johan Goosen het 16 punte bygedra toe die Bulle die verdedigende kampioene, Glasgow Warriors, met 26-19 in Skotland verslaan het om in die kwarteindronde van die Verenigde Rugbykampioenskap ʼn tuiswedstryd te verseker. Drie strafskoppe van Goosen het die besoekers teen rustyd ʼn geringe voorsprong gegee met Jamie Dobie wat ʼn drie vir die gashere gedruk het. Johann Grobbelaar en David Kriel het na rustyd drieë gedruk en die Bulle op die wenpad gesit. Kyle Steyn en Stafford McDowall het egter in die doodsnikke punte aangeteken en Glasgow bly in die tweede plek.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….