Nuus 18:00
BULLETIN 25 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA verwelkom opbouende gesprekke met die ANC oor die regering van nasionale eenheid en ekonomiese strategieë
# Die minister van Polisie vra ‘n skoolhoof van Matatiele om verskoning vir vals bewerings oor verkragting
# En meer as 200 selfone wat in Kaapstad in beslag geneem is, word heraangewend vir misdaadbestryding
# Die DA het die opbouende gesprekke met die ANC oor die regering van nasionale eenheid en ekonomiese strategieë verwelkom. Die DA-leier, John Steenhuisen, het die afvaardiging gelei, wat gefokus het op sleutelkwessies soos die nasionale begroting en strategieë vir ekonomiese groei. Die partye het ooreengekom om gereeld gesprekke te voer en dringende uitdagings aan te pak, met die fokus op eenheid en langtermyn ekonomiese oplossings. Die DA se federale raadsvoorsitter, Helen Zille, is optimisties oor verdere samewerking binne die regering.
# Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, het ‘n openbare verskoning uitgereik aan die skoolhoof van Bergview College, Jaco Pieterse, nadat hy hom verkeerdelik betrek het by die verkragting van ‘n sewe-jarige meisie in Matatiele in die Oos-Kaap in Oktober verlede jaar. Gerrie Nel van AfriForum verteenwoordig Pieterse. Mchunu het in ‘n brief aan Nel die fout erken en bevestig Pieterse was nooit ‘n verdagte nie en is ook nie gevra vir ‘n DNS-monster nie. Die voorval het nasionale verontwaardiging ontketen met die “Justice for Cwecwe“-veldtog.
# Een persoon is dood nadat ‘n huis vanoggend in P Section in Umlazi, Durban, ingetuimel het. Die KwaZulu-Natalse LUR vir Vervoer en Menslike Nedersettings, Siboniso Duma, sê verskeie beseerdes is in die hospitaal opgeneem. Die woordvoerder, Ndabezinhle Sibiya, het bevestig swaar reën het oorstromings veroorsaak, huise het weggespoel, paaie is gesluit en ongelukke het toegeneem. Hy beklemtoon vloede en infrastruktuurskade is beduidende uitdagings wat dringende optrede sal vereis met die beperkte hulpbronne:
# Meer as 200 selfone wat in beslag geneem is, is heraangewend vir misdaadbestryding in Kaapstad. Die selfone is by motoriste afgeneem wat dit gebruik het terwyl hulle bestuur, en is geskenk aan buurtwagte in gebiede soos Khayelitsha, Delft en Manenberg. Die stad berig dat minder motoriste nou betrap word dat hulle selfone gebruik terwyl hulle bestuur. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die selfone sal misdaadbestryding en vinnige reaksie versterk:
# Gholf: Samesprekings duur voort om die tegnologie-gedrewe liga van Tiger Woods en Rory McIlroy, die TGL-liga, uit te brei om ‘n vroueliga in te sluit. Dit is volgens die uitvoerende hoof van TMRW Sports, Mike McCarley, wat die TGL saam met Woods en McIlroy gestig het. Die liga bestaan op die oomblik uit ses vierman-spanne, insluitend 12 van die wêreld se voorste 20 manspelers. McCarley sê daar is ‘n goeie geleentheid om die Vroue-beroepsgholfvereniging se sterre in te sluit, iets waaraan hulle harde werk.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 21-rand-36-sent teen die euro en 25-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-908-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-279-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-33-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….