Nuus 16:00
BULLETIN 25 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Tanzanië verbied landbou-invoere vanuit SA en Malawi te midde van handelsgeskil
# ‘n Senior Russiese offisier sterf in ‘n motorbom-ontploffing naby Moskou
# En rugby: Die Jong Bokke is slaggereed vir die Onder 20-Rugbykampioenskap
# Tanzanië het alle landbou-invoere vanuit Suid-Afrika en Malawi verbied, wat die streekshandelsgeskil vereger het. Die minister van Landbou, Hussein Bashe, sê die stap het ten doel om Tanzaniese sakebelange te beskerm. Die verbod volg ná ‘n langdurige verbod op piesanginvoere na Suid-Afrika en Malawi se vroeëre beperkings op Tanzaniese produkte. Bashe het burgers verseker voedselsekerheid sal nie beïnvloed word nie, maar handel in die streek is volgens berigte reeds geraak.
# Die Landbou-voedsel- en Verwante Werkersvakbond vra al sy lede om met die werkersklas oral in die land saam te span en Werkersdag Donderdag te gedenk. Suid-Afrika staan elke jaar op 1 Mei stil om die onblusbare gees van sy werkersklas-mans en -vroue te eer. Die vakbond se woordvoerder, Khayelihle Khumalo sê hulle is verbind tot die stryd vir geregtigheid, waardigheid en die regte van alle werkers:
# Die Posbank het bevestig SASSA se gouekaarte sal ná 31 Mei steeds geldig wees. Begunstigdes kan voortgaan om betalings te ontvang en hul kaarte by ‘n kitsbank, kleinhandelwinkels of vir aankope te gebruik. Die uitvoerende hoof, Nikki Mbengashe, het die versekering gegee dat daar geen ontwrigtings sal wees tydens die oorgang na die swartkaarte nie. Die Posbank waarsku teen waninligting en versoek begunstigdes om slegs staat te maak op amptelike aankondigings. Sy het bevestig die verspreiding van die nuwe swartkaarte is tydelik onderbreek, maar noodsaaklike dienste bly beskikbaar.
# ‘n Senior Russiese militêre offisier is vanoggend dood in ‘n motorbomontploffing naby Moskou. Die owerhede sê Yaroslav Moskalik se dood is veroorsaak deur die aktivering van ‘n tuisgemaakte ploftoestel gevul met vernietigende materiaal. Hulle het niemand van die aanval beskuldig nie, maar volgens Reuters is verskeie senior Russiese militêre offisiere in sluipmoord-aanvalle dood sedert die land se inval in Oekraïne. ‘n Tweede persoon het glo ook in die ontploffing gesterf. Moskalik, ‘n generaal-majoor, het aan verskeie hoë-vlak afvaardigings deelgeneem.
# Rugby: Die Junior Springbokke is besig met finale voorbereidings vir die Onder-20 Rugbykampioenskap wat Donderdag in die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha begin. Afrigtingsraadgewer Johan Ackermann sê die span is gretig om teen Argentinië, Nieu-Seeland en Australië te speel na ‘n suksesvolle toer na Georgië. Hy sê die span fokus op die versterking van die skrums en lynstane, en beskryf die toernooi as ‘n groot geleentheid vir jong talent:
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-80-sent teen die dollar, 21-rand-35-sent teen die euro en 25-rand-3-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-870-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-293-dollar-42-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-77-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….