Nuus 15:00
BULLETIN 24 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Mbalula sê deurlopende onderhandelings met alle politieke partye het gehelp om die begrotingsdooiepunt te oorkom
# Die EFF eis minister Godongwana se onmiddellike bedanking
# En Zuma verloor nog ‘n ronde om aanklaer Downer van sy hofsaak te verwyder
# Die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, sê die party het belangrike lesse geleer in die bestuur van die begroting onder die regering van nasionale eenheid. Hy het die besluit om die beplande BTW-verhoging te skrap, verwelkom en aangevoer dat dit weerlose mense beskerm. Mbalula het aan die media gesê die begrotingsproses is nou meer ingewikkeld en polities, maar deur intensiewe onderhandelinge met die Nasionale Tesourie en ander partye, is gemeenskaplike terrein gevind:
Die EFF eis intussen die onmiddellike bedanking van die minister van Finansies, Enoch Godongwana, en die direkteur-generaal van die Nasionale Tesourie, Duncan Pieterse, na die skrapping van die BTW-verhoging. Die EFF se woordvoerder, Sinawo Thambo, sê dit behoort vir Godongwana en Pieterse te bewys dat hulle onbekwaam is en dus ‘n bedreiging vir die land se ekonomiese bestendigheid sowel as die lewensbestaan van Suid-Afrikaners inhou:
# Die Hooggeregshof in Pietermaritzburg het oudpresident Jacob Zuma verlof geweier om te appelleer teen die besluit om staatsaanklaer Billy Downer nie van sy wapentransaksie-korrupsieverhoor te verwyder nie. Regter Nkosinathi Chili het bevind dat Zuma nie daarin geslaag het om te bewys dat Downer se beweerde vooroordeel sy reg op ‘n billike verhoor sou benadeel nie. Die hof het verwys daarna dat Zuma se betoë reeds in vorige uitsprake van die hand gewys is. Zuma is van voorneme om teen die beslissing te appelleer, wat die saak nog verder sal vertraag.
# Padwedlope: ’n Nuwe wêreldrekord is Sondag in die vooruitsig in die Londense Marathon. Die huidige rekord is vroeër die maand in die Paryse Marathon opgestel toe 56-duisend-950 atlete die wedloop klaargemaak het, terwyl meer as 55-duisend atlete in verlede jaar se New Yorkse Marathon gehardloop het. Sondag se roete begin by Greenwichpark en eindig op die Londense Mall net verby Buckingham-paleis. Langs die pad kan drawwers ander beroemde bakens soos die Toringbrug en Big Ben in die Britse hoofstad bewonder.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-68-sent teen die dollar, 21-rand-27-sent teen die euro en 24-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 92-duisend-306-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-89-sent per vat.
# En laastens, die Johannesburgse Nooddiens is op ‘n hoë gereedheidsgrondslag weens hewige donderstorms en aanhoudende reën reg oor die metro. Oorstromings het in verskeie gebiede voorgekom, insluitend Randparkrif, Newlands, Strubensvallei, Weltevredenpark, Jukskeipark en Witkoppenweg. EMS-woordvoerder, Robert Mulaudzi, sê inwoners word aangeraai om 011 375 5911 te skakel in geval van lewensgevaarlike noodgevalle:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….