Nuus 07:00
BULLETIN 24 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana het die voorgestelde BTW-verhoging teruggetrek
# Die NVG stel ’n senior advokaat aan om na ‘n appèl teen die Omotoso-beslissing te kyk
# En rugby: Die Junior Bokke skop af met hul laaste voorbereidings
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het besluit om die BTW-verhoging van 0,5-persentasiepunte terug te trek. Hy sê in ‘n verklaring die besluit volg ná uitgebreide beraadslaging met politieke partye en versigtige oorweging van die parlementêre komitees se aanbevelings. Godongwana sê deur nie BTW te verhoog nie, sal daar op die medium termyn ʼn inkomste-tekort van sowat 75-miljard-rand wees. Hy sê die Parlement sal versoek word om uitgawes te besnoei om seker te maak die verlies aan inkomste benadeel nie Suid-Afrika se fiskale volhoubaarheid nie.
Adjunkpresident Paul Mashatile het intussen erken dat die huidige begrotingsproses nie deursigtig en insluitend genoeg is nie. Hy het ʼn hoëvlak-konferensie oor die 2025-begroting toegespreek wat die Finansiële en Fiskale Kommissie van Suid-Afrika belê het. Mashatile sê in teenstelling met ander regerings in die wêreld wat ineengestort het weens fiskale geskille, het Suid-Afrika die uitdagings suksesvol hanteer:
# Die Nasionale Vervolgingsgesag het ‘n senior advokaat aangestel om die vooruitsigte op te weeg om appèl aan te teken teen die onskuldigbevinding van die omstrede televisie-evangelis Timothy Omotoso. Die NVG se interne span hersien verhoorafskrifte en sleutelbeslissings gegewe die saak se ingewikkeldheid en openbare uitwerking. Die staat kan slegs teen onskuldigbevindings appelleer ingevolge Artikel 319 van die Strafproseswet. Die finale besluit sal ‘n kundige se regsmening volg. Die NVG beklemtoon hy is verbind tot geregtigheid vir die slagoffers en om die publiek se vertroue te herstel.
# President Donald Trump het sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodymyr Zelensky, beskuldig dat hy vredesonderhandelinge met Rusland belemmer. Dit volg nadat Zelensky aan die Wall Street Journal gesê het sy land gaan nie die Krim afstaan as deel van die onderhandelings nie. Een van Amerika se voorstelle is dat Rusland se onwettige anneksasie van die Krim erken word. Intussen waarsku Amerika se visepresident, JD Vance, dat Rusland en Oekraïne ʼn ooreenkoms moet bereik, anders gaan Amerika hom onttrek:
# Rugby: Die Junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê hy het 31 spelers wat fiks en gereed is om te speel. Die span het met hul voorbereiding vir die Onder-20 Rugbykampioenskap begin wat volgende week op die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha afskop. Die tweede uitgawe van die Suidelike Halfrond-toernooi bring die beste jong sterre van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië bymekaar. Foote sê hy is tevrede met die verloop van die voorbereiding:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 21-rand-13-sent teen die euro en 24-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-433-dollar-60-sent. Die prys van goud is drie-duisend-358-dollar-81-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-9-sent per vat.
# En ten slotte: Die Suid-Afrikaanse Beenmurgregister het sy eerste geskikte pasmaat-stamsel gevind deur ‘n wêreldwye skenkerveldtog. Bradley Peters van die Verenigde Koninkryk was geskik vir ‘n pasiënt in Suid-Amerika nadat hy verlede jaar tydens ‘n bewusmakingsgeleentheid by die veldtog aangesluit het. Die oorplantings-oorlewende Robin Lewis en sy vrou het die veldtog genaamd Matches on the Map gestig. Die span het deur verskeie lande gereis om meer skenkers te werf. Die register sê meer inskrywings kan help om baie meer lewens te red.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….