Nuus 15:00
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Daar is 7,5-miljard-rand se siviele eise teen die polisie in die Oos-Kaap
# ‘n Navorser is bekommerd oor ‘n gebrek aan optrede om tienerswangerskappe te beperk
# En, krieket: Die Proteas uitgeboender vir net 55 lopies
# Die DA in die Oos-Kaap sê die polisie in die provinsie het 7,5-miljard-rand se uitstaande siviele eise teen sy beamptes. Die provinsiale Departement van Gemeenskapsveiligheid het reeds meer as 47-milljoen-rand se siviele eise in die 2022/2023-boekjaar uitbetaal, wat wissel van onregmatige inhegtenisneming en onwettige soek en beslaglegging, tot aanranding en skietvoorvalle. Bobby Stevenson van die DA sê 15-miljoen-rand is uitbetaal in die eerste vier maande van die 2023/2024-boekjaar:
# KwaZulu-Natal se kindersektor-navorser, Siyabonga Nzimande, is bekommerd oor ‘n gebrek aan optrede om tienerswangerskappe in Suid-Afrika te bekamp. Minstens 190 tienerma’s het op Nuwejaarsdag geboorte geskenk en 145 op Kersdag. Navorsing toon hierdie jong meisies kom uit gebroke gesinne. Nzimande het aan Newzroom Afrika gesê alle Suid-Afrikaners moet saamwerk om tienerswangerskappe in die land te beëindig:
# Die Stad Kaapstad moedig inwoners aan om water slim te gebruik. Die gemiddelde watergebruik in Kaapstad die afgelope week was 968-miljoen liter per dag, wat hoër is as die metro se huidige teiken. Die metro moedig inwoners aan om saam te werk om gesamentlik minder as 950-miljoen liter per dag te gebruik. Dan sal damme en reservoirs langer voller bly. Die jongste gemiddelde stand van damme in Kaapstad is 89,4-persent. Die stad sê permanente regulasies om die gebruik van water te beheer, bly te alle tye van krag.
# Maersk het alle vaarte deur die Rooisee tot verdere kennisgewing opgeskort na ‘n aanval deur Houthi-rebelle op een van sy handelsskepe. Die rebelle, wat solidariteit toon met die Palestyne in die konflik in Gaza, het herhaaldelik vaartuie in die uiters belangrike Rooisee-skeepsvaartlaan geteiken. Die Maersk Hangzhou, ‘n Deense houerskip wat onder die vlag van Singapoer vaar, is onderweg van Singapoer na die Suez-hawe in Egipte deur ‘n missiel getref terwyl dit deur die Bab al-Mandab-seestraat gevaar het. In reaksie sal Maersk nou skepe om die Kaap die Goeie Hoop herlei.
# Krieket: Die Proteas het die tweede toets teen Indië op Nuweland op die swakste moontlike manier afgeskop. Waarnemende kaptein Dean Elgar het die loot gewen en besluit om te kolf. Nie een van die vier toporde-kolwers kon eers meer as vyf lopies aanteken nie. Net Kyle Verreynne en David Bedingham kon by dubbelsyfers uitkom. Mohammed Siraj het die meeste van die verwoesting gesaai en ses paaltjies vir net 15 lopies ingeoes. Die Proteas is in die 24ste beurt vir net 55 lopies uitgeboul – en kon nie eers op die eerste dag van die toets tot middagete kolf nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-74-sent teen die dollar, 20-rand-48-sent teen die euro en 23-rand-67-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 44-duisend-785-dollar-37-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-52-dollar-94-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-83-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….