Nuus 16:00
BULLETIN 23 April 4 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie sê minstens 355-miljoen is vanjaar beskikbaar gestel vir politieke befondsing
# Die ANC verwelkom die polisie-ondersoek na die aanval op adjunkpresident Paul Mashatile se konvooi
# En die Gautengse LUR vir Onderwys ondersoek bewerings van aanranding by ‘n hoërskool in Hammanskraal
# Die Verkiesingskommissie sê minstens 355-miljoen-rand is in die huidige boekjaar beskikbaar gestel vir verspreiding onder 20 politieke partye. Uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê die befondsing, wat ingevolge die Wet op die Befondsing van Politieke Partye versprei word, is bedoel om veelpartye-demokrasie te ondersteun en finansiële deursigtigheid te verseker. Hy sê die toekenning is deel van die kommissie se voorbereidings vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing:
# Die ANC het die polisie-ondersoek na die onlangse voorval met adjunkpresident Paul Mashatile se konvooi verwelkom. Nasionale kommissaris Fannie Masemola het bevestig dat ‘n hoëvlak-ondersoekspan die ondersoek hanteer, met ’n voltooide ballistiese verslag en voortgesette bedreigings-bepalings. Die ANC het vertroue in die Presidensiële Beskermingsdiens uitgespreek en Mashatile se kalm reaksie geloof. Die party het bedreigings teen nasionale leierskap veroordeel en kalmte aangemoedig totdat die uitslag van die ondersoek bekend gemaak word.
# Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Matome Chiloane, het diepe kommer uitgespreek oor bewerings van lyfstraf by die Madisong High School in Hammanskraal. Leerders het te kenne gegee dat die skoolhoof hulle fisies aanrand. Die departement het ‘n interne ondersoek van stapel gestuur, en die skoolhoof sal tydens die ondersoek verslag doen aan die distrikskantoor. Die departement se woordvoerder, Steve Mabona, sê lyfstraf is onwettig, en vra gesinne wat geraak word om ondersteuning te kry en mishandeling aan te meld:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die reeks brande wat die afgelope paar jaar verskeie regeringsgeboue verwoes het, hou ‘n bedreiging in vir die veiligheid van staatsamptenare en ondermyn die integriteit van nasionale instellings. Dit sluit die Parlementgebou, die Tembisa-hospitaal en die Maatskaplike Ontwikkelings-gebou in Durban in. Claude Naiker van die vakbond sê herstelwerk en opknappings aan hierdie geboue plaas ook verdere druk op Suid-Afrika se begroting:
# Sokker: Real Madrid se hoofafrigter, Carlo Ancelotti, sê die doelskieter Kylian Mbappé is reg om terug te keer na sy besering wanneer hulle Barcelona Saterdag pak in die eindstryd van die Copa del Rey. Die Fransman het Sondag Madrid se La Liga-oorwinning oor Athletic Bilbao misgeloop en sal ook nie beskikbaar wees vir vandag se wedstryd teen Getafe nie. Die superster is weens ’n enkelprobleem vervang toe Arsenal Madrid verlede week uit die Kampioeneliga geskakel het, maar behoort fiks te wees vir die Clásico saam met sy landgenoot, Ferland Mendy.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-59-sent teen die dollar, 21-rand-21-sent teen die euro en 24-rand-72-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-735-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-320-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-11-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….