Nuus 15:00
BULLETIN 23 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Verkiesingskommissie se uitvoerende hoof skets die padkaart na 2026 se plaaslike regeringsverkiesing
# ‘n Forum sê baie vrae het ontstaan oor sogenaamde sluipmoordpoging op Mashatile
# En tennis: Djokovic sê dis nie dieselfde sonder Roger en Rafa nie
# Die Verkiesingskommissie se uitvoerende hoof, Sy Mamabolo, sê voorbereidings vir volgende jaar se plaaslike regeringsverkiesing sal fokus op die hersiening van wyksgrense, die verbetering van die kieserslys en die bekendstelling van nuwe tegnologieë om bedrywighede te stroomlyn. Hierdie stappe het ten doel om doeltreffendheid te bevorder en beter verkiesingsintegriteit te verseker. Mamabolo het op ‘n nuuskonferensie gesê die padkaart, wat aangebied word as deel van die kommissie se strategiese plan, sluit ook lesse uit vorige verkiesings in, sowel as nouer samewerking met politieke rolspelers:
# Die Activists and Citizens Forum sê die storie rakende ‘n sluipmoord-poging op adjunkpresident Paul Mashatile, klink soos ‘n storie wat binne ANC-faksies opgedis is. Die forum se woordvoerder, Dennis Bloem, sê hulle glo as dit waar was, sou die land omgekeer word om die verdagtes van hierdie sogenaamde sluipmoordpoging op te spoor:
# Die DA in Gauteng eis dat ‘n gespesialiseerde en vinnige ondersoek ingestel moet word oor die moontlikheid van brandstigting, ná twee brande by die Tembisa-hospitaal in Ekurhuleni. Dit volg nadat ‘n tweede brand vandag by die hospitaal ontstaan het, ná die brand wat die Ongevalle- en Noodgevalle-afdeling oor die naweek verwoes het. Die DA-lid Jack Bloom sê hierdie voorvalle kom uiters verdag voor:
# Die minister van Handel, Nywerheid en Mededinging, Parks Tau, het ‘n werkgroep bestaaande uit belanghebbendes aangekondig om Suid-Afrika se ferrochroom-sektor te versterk. Die metaal is noodsaaklik vir die produksie van ekovriendelike vlekvrye staal wat uiters belangrik is vir die groen ekonomie. Tau beklemtoon dat Suid-Afrika moet aanpas by globale veranderings, en groen waterstof en groen ammoniak as hervormende geleenthede vir ekonomiese groei uitgewys. Suid-Afrika is die grootste produsent van titaan-houdende vlekvrye staal buite China en Europa, en Tau beklemtoon Suid-Afrika mik daarna om wêreldwyd mededingend te bly.
# Tennis: Die kampioen van 24-Grand Slam-toernooie, Novak Djokovic, sê sy begeerte en passie bly steeds sterk, hoewel sy motivering nie meer dieselfde is sonder sy legendariese teenstanders, Rafael Nadal van Spanje en Roger Federer van Switserland, nie. Die 38-jarige Serwiër het nog nie vanjaar ’n enkele toernooi gewen nie, maar sê hy wil steeds meeding vir die groot pryse. Djokovic speel hierdie week in die Madridse Ope in Spanje om momentum op te bou vir die Franse Ope wat die 25ste van volgende maand in Parys begin.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-55-sent teen die dollar, 21-rand-16-sent teen die euro en 24-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-697-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-335-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….