Eko-minuut 13:30
BULLETIN 23 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n laagdruk-stelsel kan swaar reën, donderstorms en koue weer oor die grootste dele van die land veroorsaak van vandag tot Saterdag. Woordvoerder Tokelo Chiloane sê swaar neerslae kan in die oostelike streke voorkom, en die Vrystaat en Noordwes kan oorstromings en hael verwag. Sy sê sneeu word voorspel oor die Drakensberge, in die Oos-Kaap en in KwaZulu-Natal:
# ‘n Amerikaanse bioloog, Camille Parmesan, het die BBVA-stigting se Frontiers of Knowledge-toekenning vir Klimaatsverandering ontvang nadat sy gewys het hoe klimaatsverandering spesies verplaas. Haar baanbreker-navorsing het getoon hoe stygende temperature wêreldwyd ʼn afdruk op bioverskeidenheid laat. Die komitee vir Klimaatsverandering en Omgewingswetenskap sê Parmesan se werk hou groot gevolge in vir openbare gesondheid omdat tropiese siektes soos malaria en knokkelkoors wat deur muskiete oorgedra word, poolwaarts versprei.
# En ten slotte: Klimaatsverandering sal teen 2090 verbind kan word met een uit tien gevalle van geslagsgeweld tussen lewensmaats. Dit is volgens ʼn verslag deur die Verenigde Nasies se Kollig-projek. Die studie het bevind elke styging van een graad Celsius in die wêreldtemperatuur word verbind met ʼn styging van 4,7-persent in geweld tussen lewensmaats. In Afrika suid van die Sahara kan geweld tussen lewensmaats teen 2060 tot 140-miljoen verdriedubbel indien temperature met vier grade Celsius styg. Die VN sê indien klimaatskokke meer gereeld voorkom, sal geweld na verwagting ingrypend toeneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….