Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 23 April 12:30 nm
Goeiemiddag, ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin met rugby: Die Cheetahs het Tielman Nieuwoudt in hul span verwelkom. Die sterk loskopstut, ‘n produk van Grey College in Bloemfontein, het sedert 2022 die Blou Bulle en die Bulle verteenwoordig en sal amptelik by die Cheetahs aansluit voor hierdie jaar se Curriebekerreeks wat in Julie begin. Nog goeie nuus vir die Cheetahs se getroue ondersteuners is dat die haker Vernon Paulo sy toekoms tot die span verbind het deur sy kontrak vir nog twee jaar te verleng.
# Krieket: KL Rahul het ‘n onoorwonne 57 behaal en Delhi Capitals gehelp om Lucknow Super Giants met agt paaltjies te verslaan in hul sesde oorwinning in die Indiese Premierliga. Mukesh Kumar het vier paaltjies platgetrek en Lucknow in hul 20 boulbeurte tot 159 vir ses beperk, waarna Delhi die teiken bereik het met 13 balle oor. Delhi het ná die sege by die leiers, Gujarat Titans, aangesluit met 12 punte elk, maar hul lopie-koers is laer. Lucknow is vyfde.
# Atletiek: Die Australiese naelloop-sensasie, Gout Gout, gaan in September sy internasionale senior buiging maak op die Wêreld-atletiekkampioenskap in Tokio, Japan. Die 17-jarige Gout van Queensland, wat met die Jamaikaanse ster Usain Bolt vergelyk word, is in Australië se span ingesluit vir die byeenkoms. Hy sal aan die 200-meter-naelloop deelneem nadat hy die afstand vroeër die maand in Perth in 19,84-sekondes afgeblits het vir sy eerste titel. Hy sê hy sien uit om te sien wat hy in Tokio kan vermag teen die beste van die bestes.
# Tennis: Die kampioen van 24-Grand Slam-toernooie, Novak Djokovic, sê sy begeerte en passie bly steeds sterk, hoewel sy motivering nie meer dieselfde is sonder sy legendariese teenstanders, Rafael Nadal van Spanje en Roger Federer van Switserland, nie. Die 38-jarige Serwiër het nog nie vanjaar ’n enkele toernooi gewen nie, maar sê hy wil steeds meeding vir die groot pryse. Djokovic speel hierdie week in die Madridse Ope in Spanje om momentum op te bou vir die Franse Ope wat die 25ste van volgende maand in Parys begin.
# En Olimpiese Spele: Die Amerikaanse gimnas Simone Biles het nog nie besluit of sy aan die volgende Spele in Los Angeles gaan deelneem nie. Die mees bekroonde gimnas ooit is Maandag op die Laureus-wêreldsporttoekennings as sportvrou van die jaar aangewys. Biles sê verlede jaar se Spele in Parys, waar sy nog drie gouemedaljes gewen het om haar totaal tot sewe te verhoog, het ’n reuse-tol op haar liggaam geëis. Sy sê sy sal werklik opgewonde moet wees oor die idee voor sy aan die Spele in haar vaderland sal deelneem.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….