Nuus 12:00
BULLETIN 23 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa gaan Zelensky môre ontvang op sy eerste ampsbesoek aan Suid-Afrika
# Die polisie in KwaZulu-Natal vang gesoekte verdagtes gekoppel aan meer as 20 moorde
# En ‘n jong sokkerspeler sterf op die veld in Durban
# President Cyril Ramaphosa gaan sy Oekraïnse ampsgenoot, Volodimir Zelensky, môre by die Uniegebou in Pretoria ontvang tydens die eerste ampsbesoek deur ‘n Oekraïnse president aan Suid-Afrika. Die Presidensie sê die besoek sal aan die twee lande die geleentheid bied om bilaterale betrekkinge te bespreek en bilaterale samewerking op die gebied van handel, landbou en onderwys uit te brei. Hy sê hulle sal ook ander gebiede van samewerking ondersoek wat pogings sal ondersteun om blywende vrede tussen Oekraïne en Rusland te bewerkstellig.
# Die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, Nhlanhla Mkhwanazi, het ‘n gesamentlike polisiespan geprys oor die inhegtenisneming van vier vermeende bendelede wat gekoppel is aan meer as 20 moorde in Amaoti, Inanda. Hulle is die afgelope naweek in Cato Manor vasgetrek met vuurwapens, ammunisie en vermoedelik gesteelde eiendom in hul besit. ‘n Polisiewoordvoerder, Robert Netshiunda, sê dis ‘n groot stap vorentoe tot die beëindiging van die skrikbewind wat die gemeenskap beetgepak het:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is bekommerd dat ses landdroste wat tans geskors is sedert September 2018 steeds hul salarisse van gesamentlik 31-miljoen-rand ontvang. Volgens berigte is een van die landdroste reeds in September 2018 geskors, en nog een sedert Julie 2020. Claude Naiker van die VSA sê die klagtes teen die landdroste sluit in omkopery, oneerlikheid en ander ernstige wangedrag, en daar moet nou dringend en beslis opgetree word:
# Sokker: Die voorlopers in die Motsepe-stigtingskampioenskap, Durban City FC, het bevestig dat sy middelveldspeler Sinamandla Zondi gisteraand tydens ‘n wedstryd teen Milford FC in die Chatsworth-stadion dood is. Die 22-jarige het tydens die span se opwarming in rustyd inmekaargesak. Hy is na ‘n hospitaal gehaas waar hy dood is. Die wedstryd is beëindig met Milford wat 1-0 voor was. City sê Zondi was meer as net ‘n talentvolle speler, en was ook ‘n spanmaat, vriend, broer, seun, en ‘n inspirasie vir almal wat hom geken het.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-51-sent teen die dollar, 21-rand-8-sent teen die euro en 24-rand-63-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 94-duisend-348-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-313-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-33-sent per vat.
# En laastens, dis vandag Wêreld-boekedag waarop boeke, skrywers, illustreerders en bowenal, lesers, wêreldwyd gevier word. Vanjaar se tema handel oor die verskeidenheid boeke vir elke smaak. Die Verenigde Nasies-agentskap UNESCO sê die tema beklemtoon hoe belangrik insluiting en verskeidenheid in lees is. Hy moedig lesers aan om verskillende stemme, standpunte en kulture deur letterkunde te ondersoek en deernis en globale begrip te bevorder. UNESCO sê lees is meer as ‘n tydverdryf, maar het die mag om menings te vorm, empatie te bevorder en welstand te verbeter.
Bly ingeskakel vir meer nuus………………