Nuus 11:00
BULLETIN 23 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa is die mede-voorsitter van die Suid-Afrika-Lesotho-bi-nasionale kommissie
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor geskorste landdroste wat die staat miljoene kos
# En sokker: ‘n Middelveldspeler van Durban City sak inmekaar en sterf tydens ‘n wedstryd
# President Cyril Ramaphosa is vandag op ‘n werksbesoek in Maseru, Lesotho, as mede-voorsitter van die tweede sitting van die bi-basionale kommissie, saam met die eerste minister van Lesotho, Samuel Matekane. Die vergadering het ten doel om bilaterale betrekkinge te versterk en ekonomiese samewerking te verdiep. Dit sal ook die vordering met gesamentlike projekte hersien, insluitend die tweede fase van die Lesotho-Hoogland-waterprojek wat poog om watersekerheid te verbeter. Die Presidensie sê die besoek beklemtoon albei lande se verbintenis tot streeksontwikkeling en samewerking.
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, professor Raymond Parsons, sê klem moet opnuut geplaas word op die bespoediging van noodsaaklike strukturele hervormings. Die Internasionale Monetêre Fonds het sy vooruitskouing vir Suid-Afrika se bruto binnelandse produk vir 2025 afwaarts aangepas van 1,5-persent tot slegs een-persent. Die IMF voorspel ook dat die land se groeikoers teen 2030 slegs 1,8-persent sal wees. Parsons sê gegewe Suid-Afrika se maatskaplik-ekonomiese uitdagings, is dit eenvoudig nie goed genoeg nie:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê is bekommerd dat ses landdroste wat geskors is sedert September 2018 steeds hul salarisse van gesamentlik 31-miljoen-rand ontvang. Volgens berigte is een van die landdroste reeds in September 2018 geskors, en nog een in Julie 2020. Claude Naiker van die VSA sê die klagtes teen die landdroste sluit in omkopery, oneerlikheid en ander ernstige wangedrag, en daar moet nou dringend en beslis opgetree word:
# Die parlementêre portefeuljekomitee oor Korrektiewe Dienste het kommer uitgespreek oor oorbevolking en vertragings met instandhouding by die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad. Die verhoorafwagtende afdeling is 234-persent vol en die vroueafdeling is 248-persent oorbevolk. Die komitee se voorsitter, Kgomotso Ramolobeng, sê tydens hul oorsigbesoek het hulle probleme opgemerk soos vervalle dele van die instelling, beskadigde waterinfrastruktuur, kombuistoerusting wat nie werk nie en bed-ruimtes in die afdeling vir verhoorafwagtendes wat dringend aandag moet kry.
# Sokker: Die voorlopers in die Motsepe-stigtingskampioenskap, Durban City FC, het bevestig dat sy middelveldspeler Sinamandla Zondi gisteraand tydens ‘n wedstryd teen Milford FC in die Chatsworth-stadion dood is. Die 22-jarige het tydens die span se opwarming in rustyd inmekaargesak. Hy is na ‘n hospitaal gehaas waar hy dood is. Die wedstryd is beëindig met Milford wat 1-0 voor was. City sê Zondi was meer as net ‘n talentvolle speler, en was ook ‘n spanmaat, vriend, broer, seun, en ‘n inspirasie vir almal wat hom geken het.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 21-rand-11-sent teen die euro en 24-rand-68-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-572-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-308-dollar-46-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 67-dollar-48-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….