Nuus 09:00
BULLETIN 23 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC ontken hy het die MK-party genader om by die regering van nasionale eenheid aan te sluit
# Raymond Parsons sê die regering moet daarop fokus om hervormings te bespoedig
# En swaar reën en koue weer word voorspel
# Die ANC verwerp ‘n stemnota van oudpresident Jacob Zuma wat aandui die ANC het die MK-party genooi om aan te sluit by die regering van nasionale eenheid. Die opname bevat bewerings dat die ANC die MK-party genader het met die doel om die DA te verdryf. Die party sê daar was geen sulke samesprekings nie, en bestempel die bewerings as vals en skadelik. Die ANC se woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê alle regerings-verbintenisse was deursigtig en in ooreenstemming met die Grondwet.
# ‘n Ekonoom aan die Noordwes-Universiteit se Sakeskool, professor Raymond Parsons, sê klem moet opnuut geplaas word op die bespoediging van noodsaaklike strukturele hervormings. Die Internasionale Monetêre Fonds het sy vooruitskouing vir Suid-Afrika se bruto binnelandse produk vir 2025 afwaarts aangepas van een-komma-vyf-persent tot slegs een-persent. Die IMF voorspel ook dat die land se groeikoers teen 2040 slegs 1,8-persent sal wees. Parsons sê gegewe Suid-Afrika se maatskaplik-ekonomiese uitdagings, is dit eenvoudig nie goed genoeg nie:
# President Donald Trump sê die Amerikaanse tariewe op invoere uit China sal aansienlik daal. Trump het invoertariewe van 145-persent op produkte uit China ingestel waarop China gereageer het met tariewe van 125-persent op Amerikaanse goedere. Amerika se minister van Finansies, Scott Bessent, sê die voortslepende tariefoorlog teen China is nie volhoubaar nie. Trump sê ‘n tariefooreenkoms met China kan dalk vinnig bereik word en voeg by hy gaan nie onderhandelinge moeilik maak nie:
# Krieket: KL Rahul het ʼn onoorwonne 57 behaal en die Delhi Capitals gehelp om die Lucknow Super Giants met agt paaltjies te verslaan in hul sesde oorwinning in die Indiese Premierliga-veldtog. Mukesh Kumar het vier paaltjies platgetrek en Lucknow in hul 20 boulbeurte tot 159 vir ses beperk. In antwoord daarop het Delhi die teiken bereik met 13 balle wat oorbly. Delhi het ná die sege by die leiers, Gujarat Titans, aangesluit met 12 punte elk, maar hul lopie-koers is laer. Lucknow is vyfde.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-58-sent teen die dollar, 21-rand-15-sent teen die euro en 24-rand-70-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 93-duisend-en-97-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-338-dollar-05-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 67-dollar-02-sent per vat.
# En ter afsluiting, die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku ‘n laagdruk-stelsel kan swaar reën, donderstorms en koue weer oor die grootste dele van die land veroorsaak van vandag tot Saterdag. Woordvoerder Tokelo Chiloane sê swaar neerslae kan in die oostelike streke voorkom, en die Vrystaat en Noordwes kan oorstromings en hael verwag. Sy sê sneeu word voorspel oor die Drakensberge, in die Oos-Kaap en in KwaZulu-Natal:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….