Nuus 18:00
BULLETIN 22 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa en Putin is verbind tot ‘n vreedsame oplossing vir Rusland en Oekraïne
# Business Leadership SA waarsku oor ekonomiese bedreigings vir Suid-Afrika se voertuig-uitvoere
# En ‘n tiener kraam sonder bystand in ‘n badkamer van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein
# President Cyril Ramaphosa het bevestig hy het gister telefonies met die Russiese president, Vladimir Putin, gepraat en die sterk bande tussen die twee lande herbevestig. Die leiers het hulle daartoe verbind om pogings vir ‘n vreedsame oplossing vir die Russies-Oekraïense konflik te ondersteun. Ramaphosa sal Donderdag met Oekraïne se president, Volodimir Zelensky, by die Uniegebou in Pretoria vergader. Die samesprekings sal uitsluitlik fokus op die voortslepende oorlog in Oekraïne. Zelensky se besoek volg te midde van groeiende wêreldwye oproepe vir vrede en ‘n gespanne verhouding tussen Oekraïne en Amerika.
# Business Leadership South Africa se uitvoerende hoof, Busi Mavuso, het ’n herevaluering van die Suid-Afrikaanse Motorbedryf-meesterplan van 2018 versoek na aanleiding van dreigende Amerikaanse tariewe op Suid-Afrikaanse voertuiguitvoere. Sy versoek in haar jongste nuusbrief onmiddellike onderhandelings met Amerikaanse leiers, aangesien die sektor 6,5-persent van sy voertuie na die VSA uitvoer. Mavuso beklemtoon die instelling van die Afrika-vryhandelsgebied en die aanpassing van planne vir beweeglikheids-oplossings wat op die vasteland fokus.
# Die Vrystaatse Departement van Gesondheid het bevestig dat ’n 15-jarige meisie sonder enige bystand gekraam het in ’n badkamer van die Pelonomi-hospitaal in Bloemfontein. Die tiener het glo om hulp geroep, maar verpleegkundiges het haar na bewering geïgnoreer. Die departement se woordvoerder, Mondli Mvambi, het teenoor SABC News nalatigheid ontken en gesê ’n ondersoek is aan die gang:
# Krieket: Die gerekende Wisden-krieketjaarboek het die Indiese duo Jasprit Bumrah en Smriti Mandhana aangewys as die beste mans- en vrouespeler van 2024. Wisden sê dit gebeur selde dat ’n speler so oorweldigend uitstaan soos Bumrah verlede jaar. Die Windies-kolwer Nicholas Pooran is as die beste T20-speler in die wêreld aangewys. Gus Atkinson, Liam Dawson, Jamie Smith en Sophie Ecclestone van Engeland, en Dan Worrall van Nieu-Seeland is as Wisden se vyf spelers van die jaar aangewys. Die jaarboek word sedert 1864 jaarliks gepubliseer.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-60-sent teen die dollar, 21-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-88-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 90-duisend-308-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-426-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-33-sent per vat.
# En laastens, ‘n klimaatkenner aan die Stellenbosse Bestuurskool, Jako Volschenk, sê optimisme, gerugsteun deur wetenskap en werklike vooruitgang, kan die sleutel wees tot die stryd teen klimaatsverandering. Hy het op Wêreld-Aardedag gesê Suid-Afrika is goed geplaas om te kan lei in hernubare energie, met sonkrag en wind wat tans goedkoper as steenkool is. Volschenk glo as nie net die slegte nuus gedeel word nie, maar ook die positiewe stories, sal dit mense help om gemotiveerd te bly om klimaatsuitdagings aan te pak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….