Nuus 17:00
BULLETIN 22 april 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die EFF sê die BTW-verhoging skend armes se grondwetlike regte
# Netbal Afrika eis die opskorting van Netbal Suid-Afrika se president
# En Vryheidspark stel ‘n uitstalling bekend om 30-jaar van demokrasie te herdenk
# Die EFF het in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangevoer die beplande BTW-verhoging wat volgende week in werking tree, is ongrondwetlik en sal ongelykheid vererger. Die party stem saam met die DA dat die verhoging ‘n skending van die Handves van Regte is en dat dit die armes geweldig sal benadeel. Die party se regsverteenwoordiger, Tembeka Ngcukaitobi, het ook die openbare deelnameproses gekritiseer en beklemtoon 98-persent van die voorleggings was gekant teen die verhoging:
# Die speaker van die Stad Johannesburg, Nobuhle Mthembu, erken die berig in Sunday World oor die Openbare Beskermer se ondersoek na die aanstelling van die raad se sekretaris, Andile Gobinca, wat handel oor sy kwalifikasies. Die woordvoerder, Mzwandile Khathi, sê die speaker verseker inwoners van hul volle samewerking en deursigtigheid. Sy het bevestig dat die speaker se kantoor interne bestuur hersien om wettige en etiese aanstellingstandaarde te handhaaf terwyl daar op die voorlopige verslag gewag word:
# Die vakverbondfederasie Cosatu sê Franciskus se pousdom was hervormend en dat sy oproepe om seksuele misbruike binne die Katolieke Kerk aan te pak, voortgesit moet word. Die 88-jarige was die hoof van die Katolieke Kerk vanaf 2013 tot sy dood gister. Cosatu se woordvoerder, Zanele Sabela, sê Franciskus, as die eerste nie-Europese pous in meer as ’n millennium en die eerste Latyns-Amerikaanse pous, se bewind was van die begin af bestem om anders te wees:
# Netbal: Afrika se beheerliggaam het Wêreldnetbal blykbaar opdrag gegee om die voorlopige skorsing van Netbal Suid-Afrika se president, Cecilia Molokwane, op te hef. Die wêreldbeheerliggaam ondersoek bewerings dat sy Netbal SA se fondse vir persoonlike gewin misbruik het voor 2023 se Wêreldbekertoernooi in Kaapstad, en personeel en raadslede voortdurend afknou oor die saak. Molokwane is ook die president van Afrika Netbal, wat sê haar skorsing is ongegrond. Hulle eis dat behoorlike prosedures gevolg word om vas te stel of sy wel iets het om voor verantwoording te doen.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-57-sent teen die dollar, 21-rand-29-sent teen die euro en 24-rand-82-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 89-duisend-663-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-444-dollar-70-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-4-sent per vat.
# En laastens, Vryheidspark in Pretoria het ‘n uitstalling bekendgestel wat drie dekades van Suid-Afrikaanse demokrasie en solidariteit met Nederland vier. Die uitstalling bevat oudhede uit die apartheidsera, en foto’s uit die versamelings van die Internasionale Instituut vir Maatskaplike Geskiedenis, die Suid-Afrikaanse Geskiedenis-argief en die Nelson Mandela-stigting. Die uitstalling duur tot einde Junie.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….