Nuus 14:00
BULLETIN 22 April 2 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Pous Franciskus word Saterdag begrawe in ‘n kis gemaak van hout en sink
# Die DA beskuldig minister Godongwana van die oorskryding van sy mag met die BTW-aankondiging
# En tennis: Alcaraz en Djokovic is in dieselfde deel van die trekking in Madrid
# Die Vatikaan het aangekondig dat pous Franciskus Saterdag begrawe sal word, terwyl wêreldleiers soos die Amerikaanse en die Oekraïnse president, Donald Trump en Volodimir Zelensky, dit gaan bywoon om die Katolieke leier te vereer. Die diens, wat na verwagting groot skares sal lok, sal plaasvind op die plein voor die Sint Petrus-basilika in die Vatikaanstad. Die pous se kis, wat hy vroeër beveel het wat van hout en sink gemaak moet word, sal daarna in die kerk ingedra word en van daar na die Basilika van Santa Maria Maggiore vir die begrafnis.
Terug in Suid-Afrika:
# Die DA het die minister van Finansies, Enoch Godongwana, daarvan beskuldig dat hy sy grondwetlike magte oorskry het toe hy sonder parlementêre goedkeuring die BTW-verhoging aangekondig het. Die Hooggeregshof in die Wes-Kaap hoor vandag ‘n dringende aansoek van die DA en EFF om hom te verbied om BTW volgende maand te verhoog. Die DA se regsverteenwoordiger, Michael Bishop, het aan die hof gesê slegs die Parlement kan volgens wet belastings afdwing en Godongwana se optrede ondermyn hierdie beginsel:
# Die Outomobiel-Assosiasie sê hy is bemoedig deur vroeë aanduidings van ’n beduidende verandering in padgebruikersgedrag gedurende die Paastyd. Voorlopige data dui op ’n noemenswaardige afname in ongelukke en sterftes, ondanks verkeersvolumes wat die hoogste vlak in vyf jaar bereik het. Die AA se woordvoerder, Eleanor Mavimbela, sê dit dui op ’n belowende stap vorentoe in die voortgesette nasionale poging om padveiligheid te verbeter:
# ActionSA sê hy is diep bekommerd oor die brand wat die naweek in die noodeenheid van die Tembisa-hospitaal in Gauteng uitgebreek het, en vra die provinsiale Gesondheidsdepartement om dit deeglik te ondersoek. Die brand het 81 pasiënte geraak, maar geen sterftes of beserings is aangemeld nie. Emma More van ActionSA sê soos baie ander in Gauteng, sukkel die Tembisa-hospitaal met die nakoming van gesondheids- en veiligheidsregulasies en swak instandhouding:
# Tennis: Carlos Alcaraz van Spanje en die Serwiër Novak Djokovic is in dieselfde helfte van die loting vir die Madridse Ope. Alcaraz, wat onlangs die Monte-Carlo-meesterstoernooi gewen het, se eerste wedstryde sal teen die Japanse speler Yoshihito Nishioka wees, of teen Zizou Bergs van België. Die driemalige kampioen, Djokovic, sal in die eerste wedstryd teen die Italianer Matteo Arnaldi of ‘n kwalifiseerder te staan kom. Die verdedigende kampioen, Andrey Rublev van Rusland, is in dieselfde helfte as Alexander Zverev van Duitsland en die Amerikaner Ben Shelton.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-61-sent teen die dollar, 21-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-90-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-566-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-460-dollar-92-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 66-dollar-41-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….