Eko-minuut 13:30
BULLETIN NUUSAGENTSKAP 3 Januarie 1:30 nm
Goeiemiddag. Hier is jou Eko-minuut:
# Zimbabwe se minister vir die Omgewing, Klimaat en Natuurlewe, Nqobizitha Ndlovu, sê die huidige mens/natuur-strategie vir die vergoeding van slagoffers wat deur wilde diere aangeval word, is onvoldoende. Ndlovu benadruk die fonds is bedoel om slagoffers te vergoed wat tydens die jagseisoen geraak word. Ndlovu se opmerkings volg nadat meer as 60 mense tussen Januarie en Mei 2023 deur wilde diere doodgemaak is. Hy sê gemeenskappe op wildroetes staar ook ‘n verlies aan gewasse en vee in die gesig weens die verhoogde mededinging vir water en kos tussen wilde diere en mense.
# Die regering van Bangladesh het weerlig nou ook as ‘n natuurramp verklaar nadat sterftes weens mense wat raakgeslaan word, skerp gestyg het. Owerhede, insluitend die Amerikaanse Ruimte-agentskap, NASA, en die Verenigde Nasies, skryf die toename aan sterftes weens weerlig toe aan meer stormweer weens klimaatsverandering. Die direkteur-generaal van Bangladesj se departement van Rampbestuur, Mijanur Rahman, sê die meeste slagoffers van weerlig is boere wat tydens die nat moeson-seisoen hul landerye bewerk. Hy sê aardeverwarming, omgewingsveranderings en leefpatrone is die grootste bydraende faktore tot die stygende sterftesyfer weens weerlig.
# En laastens: ‘n Studie onder leiding van die Universiteit van Maine toon dat die evolusie van die mens pogings kan verongeluk om ‘n oplossing vir klimaatsverandering te vind. Die navorsing ondersoek wyses waarop die omgewing wêreldwyd die toekomstige evolusie van die mens kan beperk. Die mens ondervind volgens die ondersoek veral ruimtelike beperkings. Die gebruik van fossielbrandstof in nywerhede is ook uitgewys as ‘n sleutelfaktor vir die ontstaan van skadelike uitdagings vir die omgewing wêreldwyd, wat ‘n bedreiging inhou vir veiligheid en toegang tot hulpbronne in die toekoms.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….