Nuus 09:00
BULLETIN 22 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die DA en EFF daag vandag die BTW-verhoging in die Wes-Kaapse Hooggeregshof uit
# Die MK-party het die wit Afrikaanse nedersetting Kleinfontein besoek
# En Harvard Universiteit dagvaar die Trump-administrasie
# Die Wes-Kaapse Hooggeregshof sal na verwagting vandag ‘n dringende aansoek van die DA en EFF aanhoor om ʼn interdik te kry teen die komende BTW-verhoging van 0,5-persent. Die partye daag die wettigheid uit van die aankondiging in Maart dat ʼn BTW-verhoging deel is van die hersiene fiskale raamwerk. Die EFF se tesourier-generaal, Omphile Maotwe, sê die ANC misbruik die wetgewende prosesse al te lank deur sy oormag te gebruik om begrotings aanvaar te kry sonder behoorlike ondersoek of debat:
ActionSA beskuldig intussen die DA van skynheiligheid oor die omstrede beoogde BTW-verhoging, ondanks die DA se openbare teenkanting daarteen. Alan Beesley van Action SA sê die DA se woordvoerder oor Finansies, Ashor Sarupen, was betrokke by die opstel van die oorspronklike begrotingsrede waarin die verhoging ingesluit is. Beesley beweer die DA se optrede was vir politieke redes om invloed in die regering van nasionale eenheid te verkry:
# Die MK-party glo die gemeenskap van Kleinfontein naby Pretoria probeer nog ʼn Afrikaner-enklave soos Orania skep. Die party onder leiding van hoofsweep Mzwanele Manyi het die Afrikaner-nedersetting Maandag as deel van ʼn feitesending besoek. Die Hooggeregshof in Pretoria het Kleinfontein verlede jaar volgens die Stad Tshwane se munisipale soneringsregulasies onwettig verklaar. Manyi het aan Newzroom Afrika gesê plekke soos Orania en Kleinfontein, waar slegs wit Afrikaners woon, moontlik Artikel 235 van die Grondwet misbruik:
# Harvard Universiteit het ʼn hofsaak teen president Donald Trump se administrasie aanhangig gemaak. Dit volg nadat die administrasie onlangs fondse van sowat 41,4-miljard-rand in veeljarige toelaes aan die instelling bevries het omdat dit die regering se eise dat alle diversiteit-, gelykheid- en inklusiwiteits-programme gestaak word, ignoreer. Harvard se president, Alan Garber, sê die saak gaan oor die regering se pogings om federale fondse terug te hou om beheer oor akademiese besluitneming te kry. Hy sê Harvard sal nie sy onafhanklikheid of grondwetlike regte prysgee nie.
# Sokker: Burnley en Leeds is vir die volgende seisoen outomaties deur na die Engelse Premierliga. Kaptein Josh Brownhill se twee doele in die eerste helfte het bygedra dat Burnley vir Sheffield United met 2-1 verslaan om die Clarets se onmiddellike terugkeer na die Premierliga te verseker. Leeds het Stoke City met 6-0 verpletter om na die top-geledere terug te keer nadat hulle twee seisoene op relegasie moes staatmaak. Die twee spanne het 94 punte elk en die derde geplaaste Sheffield United, op pad na die uitspeelrondes, kan nie meer een van die twee inhaal nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-66-sent teen die dollar, 21-rand-52-sent teen die euro en 25-rand-01-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-279-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-482-dollar-09-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 6-dollar-72-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….