Nuus 08:00
BULLETIN 22 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Pous Franciskus is dood aan ‘n beroerte en gevolglike hartversaking
# Die Forum vir Suid-Afrika kritiseer die minister van Justisie se kommentaar oor Shivambu
# En Simone Biles en Mondo Duplantis wen die top-toekennings by die Laureus Wêreldsporttoekennings
# Die Vatikaan het bevestig pous Franciskus is dood na ‘n beroerte wat tot ʼn koma en hartversaking gelei het. Die 88-jarige pous is Maandagoggend dood. Die Vatikaan het ook die pous se laaste testament gedeel waar hy versoek om in die Basiliek van Sint Maria die Meerdere eerder as by die Sint Petrusbasiliek in die Vatikaan by baie ander pouse begrawe te word. Hy het ook versoek dat sy naam op sy grafsteen in Latyns, naamlik Franciscus, sal staan.
Die ANC sê intussen pous Franciskus het ʼn lewe van diens, nederigheid en onwrikbare morele leierskap gelei. Die ANC-woordvoerder, Mahlengi Bhengu-Motsiri, sê pous Franciskus se vermoë om oor godsdienstige, politieke en kulturele verdeeldheid te lei, was ʼn inspirasie:
# ActionSA in Johannesburg sê hy is bekommerd oor berigte van politieke inmengery by werksgeleenthede in gemeenskappe en wyksraadslede se beweerde inmengery by plaaslike projekte. Gemeenskapslede in Streek F sê werksgeleenthede in regeringsprogramme gaan aan lede van sekere politieke partye terwyl inwoners uitgesluit word. Elmari Atterbury van ActionSA sê die speaker se kantoor moet die bewerings ondersoek:
# Die Forum vir Suid-Afrika het kritiek uitgespreek op die minister van Justisie, Mmamoloko Kubayi, se kommentaar oor die sekretaris-generaal van die MK-party, Floyd Shivambu, se besoek aan die voortvlugtende pastoor, Shephard Bushiri, in Malawi. Woordvoerder Tebogo Mashilompane sê Kubayi het in ‘n persoonlike saak ingemeng en haar ministerie tot ‘n spaza-winkel verlaag. Mashilompane sê hulle bevraagteken Shivambu se optrede, maar die staat mag nie by persoonlike keuses betrokke raak nie. Hy eis dat Kubayi Bushiri moet terugbring om verhoor te word:
# Die wêreld se mees bekroonde gimnas, Simone Biles, is by die Laureus-wêreldsporttoekennings in Madrid aangewys as Sportvrou van die Jaar, terwyl die Sweedse paalspringer, Mondo Duplantis, as Sportman van die Jaar bekroon is. Barcelona-voorspeler Lamine Yamal ontvang die toekenning vir Deurbraak van die Jaar, terwyl Real Madrid aangewys is as die Laureus-span van die jaar. Die swemmer, Yuyan Jiang, spog met die toekenning vir Sportvrou met ʼn Gestremdheid van die Jaar. Die 22-malige Grand Slam-tenniskampioen, Rafael Nadal, is met die Laureus-sportikoon-toekenning vereer.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-65-sent teen die dollar, 21-rand-52-sent teen die euro en 24-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-en-38-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-482-dollar-96-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-74-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….