Nuus 07:00
BULLETIN 22 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Aartsbiskop Makgoba sê pous Franciskus was ‘n kampvegter vir die armes
# Die SAKP veroordeel die aanval op adjunkpresident Mashatile
# En die DA eis ‘n dringende ondersoek na die brand by die Tembisa-hospitaal
# Die Anglikaanse aartsbiskop, Thabo Makgoba, sê pous Franciskus was die laaste morele stem wat wêreldwyd herken is in hierdie tye van verwarring, en ‘n leier wat duidelik leiding gegee het in ʼn ingewikkelde en gepolariseerde politieke wêreld. Die 88-jarige pous is Maandag dood, ʼn dag nadat hy Paassondag op Sint Petrusplein verskyn het om aanbidders te groet. Makgoba sê die wêreld se armes sal hom veral mis as kampvegter en bewaarder van hul hoop en drome.
Build One SA se president, Mmusi Maimane, het intussen by die wêreld aangesluit om oor pous Franciskus te rou en sê hy was ʼn kampvegter vir die armes, geregtigheid en Afrika en ʼn hervormer. Maimane sê hy het in die Katolieke Kerk grootgeword en verstaan die betekenis van die pous se dood:
# Die SAKP het die onlangse aanval op adjunkpresident Paul Mashatile se konvooi veroordeel. Hy was op pad van ʼn vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee toe daar naby die N12 in Boksburg op sy konvooi geskiet is. Die SAKP sê die misdadige optrede is ʼn aanval op ʼn individu en ʼn regstreekse aanval op die land se demokratiese instellings. Hy sê sulke optrede is onaanvaarbaar en moet met die volle gesag van die reg te doen kry.
# ʼn Tweede verdagte, ʼn 24-jarige man, is in hegtenis geneem in verband met die skietvoorval by die Wynberg-landdroshof vroeër die maand. Dingalomoya Chintso, ʼn gewese taxibaas, is in die hof doodgeskiet waar hy op aanklagte van moord en besit van ʼn onwettige vuurwapen verskyn het. Die eerste verdagte, Shireen Matthews, het op 14 April in die hof verskyn en is volgens berigte die baasbrein agter Chintso se moord. ʼn Polisiewoordvoerder, Novela Potelwa, sê nog inhegtenisnemings word verwag:
# Die DA in Gauteng eis ‘n spoedige ondersoek na Saterdag se brand in die Tembisa-hospitaal in Gauteng. Jack Bloom van die DA het die vinnige ontruiming van die hospitaal geloof, maar die voortdurende gebrek aan aanspreeklikheid vir hospitaalbrande gekritiseer. Bloom skryf dit toe aan die versuim om regulasies oor beroepsgesondheid en -veiligheid in provinsiale hospitale na te kom. Hy eis dat ‘n bekwame hoof vir die hospitaal aangestel word. Hy eis ook dringende optrede, aanspreeklikheid en die volledige herstel van dienste.
# Motorsport: McLaren se Australiese jaer, Oscar Piastri, het sy Britse spanmaat, Lando Norris, verbygesteek op die Formule Een-punteleer nadat hy die naweek die Saoedi-Arabiese Grand Prix gewen het. Dit was die 24-jarige Piastri se derde oorwinning dié seisoen. Hy het tans 99 punte en Norris 89. Red Bull se wêreldkampioen, Max Verstappen van Nederland, is derde op die punteleer nadat hy tweede geëindig het in Jeddah, met Charles Leclerc van Monaco wat die derde plek op die podium ingeneem het vir Ferrari. Norris was vierde.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-70-sent teen die dollar, 21-rand-48-sent teen die euro en 25-rand teen die pond. Bitcoin verhandel teen 88-duisend-523-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-431-dollar-16-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-95-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….