Nuus 06:00
BULLETIN 22 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# President Ramaphosa sê pous Franciskus wou die mensdom verenig
# ’n Skietery op Paul Mashatile se konvooi word ondersoek
# En minister Creecy verwelkom ‘n daling in Paas-padsterftes
# President Cyril Ramaphosa sê as kerkhoof en wêreldwye figuurlike leier, het pous Franciskus ‘n beskouing van insluiting, gelykheid en sorg vir gemarginaliseerde individue en groepe bevorder. Die eerste Latyns-Amerikaanse leier van die Rooms-Katolieke Kerk, is gisteroggend op 88-jarige ouderdom oorlede. Hy is onlangs uit die hospitaal ontslaan ná weke se behandeling vir longontsteking. Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, sê pous Franciskus was daartoe verbind om van die wêreld ‘n beter plek te maak vir die hele mensdom:
Die DA het intussen sy medelye uitgespreek met Katolieke wêreldwyd ná die dood van pous Franciskus. Die DA-leier, John Steenhuisen, het die pous se goeie leierskap en deernis vir verstotelinge geloof. Steenhuisen sê Franciskus het as staatshoof van die Vatikaanstad en leier van die Heilige Stoel deurentyd vir vrede en verdraagsaamheid gepleit. Hy het Sondag op Paassondag sy laaste openbare verskyning op die Sint Petrusplein gemaak.
# Die polisie en die Presidensiële Beskermingseenheid het ‘n ondersoek van stapel gestuur nadat daar op adjunkpresident Paul Mashatile se amptelike voertuig geskiet is. Mashatile het teruggekeer van ’n vergadering van die ANC se nasionale uitvoerende komitee toe daar ‘n paar weke gelede op sy konvooi in Boksburg, naby die N12, geskiet is. Mashatile het die naweek aan die media gesê hy gaan nie bespiegel of vuilspel vermoed word nie:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het die vermindering in padongelukke en -sterftes oor Paasnaweek verwelkom. Voorlopige berigte dui daarop dat geen noodlottige ongelukke op die N1 voorgekom het nie. Creecy skryf dit toe aan verskerpte wetstoepassing en openbare bewusmakingspogings, maar is steeds bekommerd oor voortgesette gevalle van dronkbestuur en pogings om verkeersbeamptes om te koop. Sy vra motoriste om waaksaam te bly:
# Die vakbondfederasie Cosatu is baie bekommerd oor die brand in die noodeenheid van die Tembisa-hospitaal in Gauteng. Die organisasie sê hospitale moet veilige ruimtes wees, maar brande, soos 2021 s’n in Charlotte Maxeke, stel lewens in gevaar en plaas druk op bronne. Cosatu vra die Departemente van Gesondheid en van Arbeid om dringend te kyk na infrastruktuur- en personeelveiligheid by al die provinsie se hospitale, en vra ook toerekenbaarheid.
Rugby: Die Stormers se Springbok-voorspeler, Deon Fourie, se toekoms is in die weegskaal na ‘n ernstige besering tydens die naweek se Verenigde Rugbykampioenskapskragmeting met Connacht. Fourie is ná net enkele minute hinkend af van die veld. Die Stormers se afrigter, John Dobson, sê die 38-jarige Fourie het skynbaar sy skeenbeen gebreek, wat hom die res van die jaar op die krukkelys kan hou. Fourie het ná ‘n vorige langtermyn-besering aan Dobson gesê hy wil nie sy loopbaan eindig deur op ‘n gholfkarretjie van die veld geneem te word nie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-69-sent teen die dollar, 21-rand-57-sent teen die euro en 25-rand-5-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 87-duisend-231-dollar-50-sent. Die prys van goud is drie-duisend-438-dollar-63-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-70-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….