Sportnuus 12:30
BULLETIN SPORTNUUS 3 Januarie 12:30 nm
Goeiemiddag. Ons kyk na die jongste sportnuus en uitslae:
# Ons begin vandag met krieket: Suid-Afrika kolf eerste nadat die waarnemende kaptein, Dean Elgar, die loot gewen het in die tweede en laaste toets teen Indië in Kaapstad. Die Proteas mik na ‘n reeksoorwinning op Nuweland nadat hulle die besoekers in die eerste kragmeting in Centurion ‘n beurtnederlaag toegedien het. Indië se kaptein, Rohit Sharma, het vroeër gesê sy span se jong kolwers moet eenvoudig ‘n manier kry om Suid-Afrika se uitdagende speeltoestande te hanteer. Indië het vroeër die eendagreeks 2-1 gewen, en die T20’s was gelykop met een-elk.
Krieket van elders: Pakistan het besluit om eerste te kolf in die derde toets teen Australië in Sydney. Nadat albei aanvangskolwers vir ‘n nulletjie uitgehaal is, het die besoekers herstel en 313 op die telbord geplaas met Mohammad Rizwan en Aamer Jamal se tellings in die 80’s. Australië se kaptein, Pat Cummins, het vyf paaltjies platgetrek. Die tuisspan het daarna dag een afgesluit met ses lopies sonder die verlies van ‘n paaltjie. David Warner kolf in sy laaste toets voor sy uittrede. Cummins hoop die 37-jarige Warner maak die geleentheid die moeite werd:
# Vervolgens, sokker: West Ham United kon vir ‘n vierde agtereenvolgende wedstryd in die Premierliga oor die feestyd Dinsdag weer nie ‘n oorwinning behaal nie toe die wedstryd teen Brighton and Hove Albion op sy tuisveld gelykop, sonder enige doele geëindig het. Brighton sou met ‘n oorwinning in die sesde plek bó West Ham ingeskuif het, maar die kanse om doele in die Londen-stadion aan te teken was yl gesaai met ‘n nul-nul gelykopuitslag ‘n regverdige een. Dit laat hulle met 34 punte na 20 kragmetings in die sesde plek. Brighton lê nou bó Manchester United wat weens sy doelgemiddelde met 31 punte in die sewende plek is.
Ons het ook ander sokkernuus: Kylian Mbappé en sy moontlike skuif na Real Madrid sal na verwagting die hooftema wees tydens die oordragperiode wat Maandag in Europa begin. Mbappé , wie se driekuns verlede jaar nié die knoop vir Frankryk in die Wêreldbekertoernooi kon deurhak nie, sal die hoofonderwerp van bespreking wees. Real Madrid staan voor in die ry om die 25-jarige Mbappé op te raap. Dit is egter nog glad nie ‘n uitgemaakte saak dat Mbappé en die Franse se paaie gaan skei nie omdat hulle geen geheim maak van hul vurige ondersteuning vir hom nie. President Emmanuel Macron het hom in Junie 2022 oorreed om by Paris Saint-Germain aan te bly toe sy skuif na Real byna in die sakkie was.
# En, ons sluit vandag af met veerpyltjies: Die 16-jarige sensasie Luke Littler het nog ʼn verstommende vertoning gelewer om die eindronde van die Wêreldkampioenskap te bereik. Die tiener van Warrington in Engeland het 2018 se wenner, Rob Cross, 6-2 geklop en kort een oorwinning om die jongste wêreldkampioen in die geskiedenis te word. Littler, die jongste speler ooit om die eindronde te haal, kom vanaand in die eindstryd teen sy landgenoot, Luke Humphries, te staan. As hy wen, sal dit een van die grootste sportstories van alle tye wees. Dit kan vergelyk word met Emma Raducanu wat die Amerikaanse Ope-tennistoernooi in 2021 gewen het toe sy 18 was.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….