Nuus 08:00
BULLETIN 21 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die ANC is seker van ‘n begrotingskikking ondanks die BTW-geskil
# Die GOOD-party dring aan op veilige onderwys ná die skietvoorval by die Walter Sisulu-universiteit
# En DHL Express skort die aflewering van pakkette van meer as 15-duisend-rand aan Amerika op weens rompslomp
# Die ANC sê hy is vol vertroue dat politieke partye konsensus sal bereik oor die voorgestelde nasionale begroting, insluitend die omstrede verhoging van 0,5-persentasiepunte in BTW wat op 1 Mei in werking tree. Dit volg op die DA se besluit om die verhoging môre in die Hooggeregshof in Kaapstad te beveg. Die ANC se adjunk-sekretaris-generaal, Nomvula Mokonyane, sê die komende vergadering is van uiterste belang vir ekonomiese bestendigheid en die welstand van alle Suid-Afrikaners:
Aartsbiskop Thabo Makgoba het die land se politieke partye intussen gewaarsku dat hulle binnegevegte ‘n groot probleem vir demokrasie inhou. Die hoof van die Anglikaanse Kerk van Suider-Afrika het in sy Paasboodskap gesê partye moet ophou speletjies speel; anders gaan Suid-Afrika se demokratiese regering op ‘n krisis afstuur. Makgoba sê die partye wat in die Parlement verteenwoordig word, moet gerespekteer word. Hy het ook verwys na krisisse soos geslagsgeweld en abnormale politieke funksionering.
# Die GOOD-party sê skole en tersiêre instellings moet plekke van veiligheid en onderwys wees. Dit volg nadat ‘n student verlede week doodgeskiet is tydens ‘n betoging by die Walter Sisulu Universiteit in die Oos-Kaap. GOOD se nasionale jeugvoorsitter, Kaden Arguile, het die geweld veroordeel en beklemtoon dat studente nooit geïntimideer moet word omdat hulle hul griewe lug nie. Hy het owerhede aangemoedig om ‘n veilige leeromgewing te voorsien:
# DHL Express skort van vandag af die aflewering van pakkette ter waarde van meer as 15-duisend-rand aan Amerika op weens ‘n aansienlike toename in rompslomp. Dit volg op die instelling van die Amerikaanse president, Donald Trump, se nuwe tariewe. Die wêreldwye logistieke en internasionale verskepingsmaatskappy sê die spesifieke aflewerings vanaf alle lande sal tot verdere kennisgewing gestaak word, hoewel sake-versendings steeds sal voortgaan. BBC berig pakkette ter waarde van tot 47-duisend-rand kon voorheen met minimale papierwerk Amerika binnekom.
# En rugby: Dit was ’n dramatiese, maar lonende naweek vir drie van Suid-Afrika se vier spanne in die Verenigde Rugbykampioenskap. Die Bulle, die Haaie en die Stormers het belangrike oorwinnings behaal om op koers te bly vir die uitspeelrondes. Daar was egter bitter teleurstelling vir die Leeus, wat hul vyfde agtereenlopende nederlaag gely het. Dit is ‘n groot terugslag vir hul kanse om die top-agt te haal. Die Bulle is nou derde op die punteleer, die Haaie vierde en die Stormers agtste.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….