Nuus 11:00
BULLETIN 20 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# COSATU waarsku dat regstappe teen die BTW-verhoging die belastingraamwerk kan ontwrig
# Grens-owerheid doen beroep vir beter samewerking om onwettige migrasie te bekamp
# En, Max Verstappen se Red Bull kry vlerke in Saoedi-Arabië
# Cosatu waarsku dat regstappe teen die voorgestelde BTW-verhoging die land se belastingstelsel kan destabiliseer. Parlementêre koördineerder Matthew Parks het die risiko vir fiskale stabiliteit beklemtoon. COSATU staan die 0,5-persentasiepunt BTW-verhoging wat op 1 Mei in werking tree, teen. Parks sê hy steun alternatiewe inkomstebronne, soos welvaartbelasting en hoër maatskappybelasting, om die las op werkers te verlig:
# Die Grensbestuursowerheid doen ’n beroep op beter kommunikasie tussen landre van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap om onwettige migrasie te bekamp. Kommissaris Michael Masiapato het nuwe tegnologieë by grensposte geloof en bekend gemaak dat 89 mense onlangs by die Lebombo-grenspos in hegtenis geneem is. Hy het die belangrikheid van streeksamewerking beklemtoon om die oorsake van migrasie aan te spreek en veiligheidsmaatreëls oor lidlande heen te verbeter vir meer doeltreffende grensbeheer:
# Die polisie in die Noord-Kaap bied ‘n beloning van 100-duisend rand aan vir inligting wat lei tot die inhegtenisneming van verdagtes wat drie liggame gesteel het. Die lyke van ’n baba-dogtertjie en twee volwasse mans is op 17 Maart uit die Motheo Wa Bophelo-begrafnisondernemer in Kuruman gesteel. Polisiewoordvoerder Cherelle Ehlers sê die indringers het ’n sekerheidswag aangerand en vasgebind voordat hulle met die lyke gevlug het. Die liggame word steeds vermis.
# Dit word verwag dat Pous Franciskus, Katolieke regoor die wêreld vandag sal toespreek tydens Paasvieringe in die Vatikaanstad, net weke nadat hy om sy lewe geveg het nadat hy vir longontsteking behandel is. Die 88-jarige pous, wat gesondheidsprobleme ondervind, het begin herstel nadat hy op 23 Maart die hospitaal verlaat het nadat hy vir 38 dae behandel is. Hy sal na verwagting vanmiddag sy Paasboodskap vanaf die balkon op St. Petrus-plein lewer.
# Motorsport: Max Verstappen sê sy Red Bull-motor het “lewe gekry” nadat hy die voorste wegspringplek vir die Saoedi-Arabiese Grand Prix verower het. Hy het McLaren se Oscar Piastri na die tweede wegspringplek gedruk met ‘n baanrekord in ‘n opwindende kwalifiseringsessie. Piastri se spanmaat, kampioenskapvoorloper Lando Norris, het van die baan af gejaag en sal in die vyfde wegspringry vandag se wedren begin. Viermalige wêreldkampioen Verstappen was onverbeterlik onder die nagligte van die vinnige Jeddah Corniche-baan. Dit was ‘n reuse-ommekeer vir die Nederlander nadat hy en sy Red Bull-span die vorige week in Bahrein gesukkel het.
# En ten slotte, Tennis: Dit is die stryd van die 21-jariges wanneer Spanje se Carlos Alcaraz en die Deen Holger Rune in die eindstryd van die Barcelona Ope speel. Alcaraz het gemaklik tot sy derde Barcelona Ope eindstryd deurgedring nadat hy 6-2, 6-4 met Arthur Fils afgereken het. Alcaraz is hierdie seisoen onoorwonne op kleibane. Hy het laas in 2021 in Barcelona verloor en die toernooi in 2022 en 2023 gewen. Hy het verlede jaar se toernooi weens ‘n armbesering misgeloop. Vroeër het die wêreld se nommer 13, Rune, vir Karen Khachanov met 6-3, 6-2 geklop.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….