Nuus 8:00
BULLETIN 20 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die MK Party sê Shivambu het Bushiri se kerk nie namens die party besoek nie
# Putin verras met wapenstilstand vir Paassondag in Oekraïne
# En Eskom sê brandstofbesteding aan sy oopsiklus-gasturbinevloot sal mettertyd afneem
# Die MK Party sê sy sekretaris-generaal Floyd Shivambu se besoek aan die kerk van selfverklaarde profeet Shepherd Bushiri in Malawi het niks met die party te doen nie. Die party sê die besoek is nie goedgekeur, bekragtig of voorgestel deur die leierskap of enige amptelike struktuur van die party nie. Die party sê in ‘n verklaring Shivambu het die kerk in sy persoonlike hoedanigheid besoek sonder die mandaat of medewete van die party. Hy sê die party bly sterk gekant teen bande met enige individue wat voortvlugtig is van die gereg.
# Rusland se president Vladimir Putin het verras met ‘n aankondiging van ‘n wapenstilstand in Oekraïne wat tot vanaand middernag sal duur. Dit is die belangrikste onderbreking in gevegte tydens die drie jaar lange konflik. Oekraïne het aangedui hulle sal ook die wapenstilstand eerbiedig. Dit kom te midde van maandelange druk wat Amerikaanse president Donald Trump op beide lande uitoefen om in te stem tot ‘n wapenstilstand. Hy het gedreig om aan die onderhandelinge te onttrek as geen vordering gemaak word nie.
# Eskom sê hy verwag sy besteding aan brandstof vir die oopsiklus-gasturbinevloot sal verminder namate die instandhoudingswerk begin afneem. Die kragvoorsiener het van 1 tot 17 April ongeveer 1,67-miljard-rand aan brandstof vir die vloot bestee, wat 284,4 gigawatt-ure opwek. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê dit is meer as die 109,4 gigawatt-ure in dieselfde tydperk verlede jaar:
# South Africans Against Drunk Driving het die regering gekritiseer omdat hulle nie genoeg doen om dronkbestuur te bekamp nie. Die meeste ongelukke in die land is weens menslike foute, insluitend moegheid, roekelose bestuur en dronkbestuur. Caro Smit van die organisasie het die drankwette in die land geloof, maar sê swak toepassing is ‘n groot uitdaging. Sy het oproepe vir strenger strawwe herhaal om, wat sy ‘n nasionale krisis noem, hok te slaan:
# Sokker: Mamelodi Sundowns het nul-elk gelykop gespeel teen Al Ahly van Egipte in die eerste been van hulle CAF Kampioeneliga halfeindstryd op Loftus Versfeld in Pretoria. Hoewel hulle balbesit oorheers het, het die tuisspan nie regtig gelyk of hulle ‘n doel gaan aanteken nie. Al Ahly het twee keer gedink hulle het ‘n doel aangeteken, maar spelers was onkant. Sundowns se afrigter Miguel Cardoso moet nou ‘n plan bedink vir die tweede wedstryd Vrydag in Kaïro.
# En ten slotte rugbynuus: Dit was Springbok-losskakel Sacha Feinberg-Mngomezulu se dag in Kaapstad met drie drieë, drie vervyfskoppe en ‘n strafskop om die Stormers te laat wen met 34-29 teen Connacht in the Verenigde Rugbykampioenskap. Connacht het die tuisskare in die laaste minuut na hulle asems laat snak met ‘n drie, maar weens obstruksie is dit nie toegeken nie. Dit was ‘n belangrike oorwinning vir die Kaapse span want hulle het nou drie tuiswedstryde oor voor die uitkloprondtes begin.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….