Nuus 13:00
BULLETIN 18 April 1 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Twee sterf in ‘n minibus-ongeluk op die N4 te midde van swaar Paasverkeer
# Gautengse gesondheidsdepartement is op hoë gereedheid vir moontlike vloede die Paasnaweek
# En, Sokker: Manchester United maak ‘n merkwaardige terugkeer om na halfeindronde van Europa-liga deur te dring
# Twee mense is in Mpumalanga dood en elf beseer toe ‘n minibus op die N4 naby die Klein Olifantsdam by Middelburg omgeslaan het. Die minibus was met lede van die Impact of Praise-kerk na Carnival City onderweg. Drie van die beseerdes se toestand is ernstig. Die woordvoerder van die N3-Tolkonsessie, Thania Dhoogra, sê intussen die getal voertuie op die N3 dié Paasnaweek neem steeds toe en een-duisend-373 voertuie per uur beweeg tans deur die de Hoek-tolplaza.
Limpopo se departement van Vervoer waarsku motoriste intussen om vandag swaar verkeer op paaie in die provinsie te verwag, veral op die N1, R101, R71 en D4040-roetes. Die departement se woordvoerder, Tidimalo Chuene, sê beamptes sal oponthoude bestuur en padreëls afdwing. Sy sê bestuurders moet by die spoedgrens hou, sperstrepe gehoorsaam, nié bestuur as hulle gedrink het nie en moet sorg dat insittendes vasgegordel is:
# Gauteng se Gesondheidsdepartement het ‘n volledige noodreaksie geaktiveer te midde van reën oor Gauteng wat die gevaar van oorstromings verhoog. Die direkteur van die Nood- Mediese Dienste, Reuben Ruiters, sê gladde paaie en oorstromings op ‘n aantal plekke het hulle genoodsaak om reddingsbote en ambulanse na hoërisiko-gebiede te ontplooi. Hy vra inwoners om oorstroomde gebiede en lae bruggies te vermy en op hul hoede te bly:
# Die Vereniging van Staatsamptenare het die kommerwekkende toename in gevalle van leerders wat seksueel deur onderwysers misbruik word, ten sterkste veroordeel. Volgens die vakbond is 111 gevalle in die 2024/2025-tydperk aangemeld wat 35-persent meer is as die vorige jaar. Claude Naiker van die vakbond sê die huidige maatreëls slaag nie daarin om leerders te beskerm nie en doen ’n beroep op strenger keurings, verpligte aanmelding van misbruik, en beter opleiding vir skoolpersoneel.
# Die seun van ’n adjunk-polisiehoof van Florida, Amerika, het gister twee mense by die Florida State-universiteit doodgeskiet en vier gewond. Die aanvaller is deur die polisie gewond en word in ‘n hospitaal behandel. Hy het volgens die polisie alleen opgetree en die motief is nie bekend nie. Die seun ma is die adjunk-polisiehoof van Leon County. Hy het haar persoonlike handwapen gebruik, wat voorheen haar dienswapen was, maar wat sy intussen oorgekoop het.
# En Sokker: Manchester United het ‘n merkwaardige terugkeer in hul kwarteindstryd teen Lyon gemaak toe hulle in bykomende tyd drie doele aangeteken het. Ruben Amorim se span het met ses minute oor in bykomende tyd 6-4 agtergeloop – voordat Bruno Fernandes, Kobbie Mainoo en Harry Maguire ingeskop het om Lyon 7-6 te klop. In die ander halfeindstryd het Dominic Solanke vir Spurs in die eerste helfte ‘n strafdoel aangeteken wat aan hulle ‘n doelgemiddelde oorwinning van 2-1 teen Eintracht Frankfurt besorg het.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….