Nuus 08:00
BULLETIN 18 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Godongwana bevestig die BTW-verhoging tree op 1 Mei in werking ondanks politieke teenkanting
# Rusland verwyder die Taliban se klassifikasie as terreurorganisasie
# En, Kaapstad ondersteun nuwe plaaslik vervaardigde rolprente met sy eerste rolprentfonds
# Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het bevestig die BTW-verhoging van ‘n halwe persentasiepunt sal op 1 Mei voortgaan soos beplan, ondanks regstappe deur die DA en EFF. Godongwana voer in hofstukke aan die BTW-verhoging is nodig om besnoeiings in besteding aan openbare dienste, of verdere skuld te vermy. Hy het die DA se bewering dat die BTW-verhoging ongrondwetlik is, van die hand gewys aangesien die wet hom toelaat om sulke verhogings aan te kondig, mits die Parlement dit goedkeur. Die saak word Dinsdag in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangehoor.
# Die GOOD-party verwelkom die regering se 90-dae-blitsveldtog teen geslagsgeweld en vrouemoord en noem dit ‘n belangrike stap wat lankal gedoen moes word. Die party ondersteun ‘n herlewing van die Interministeriële komitee oor geslagsgeweld en pogings om probleme in die regstelsel reg te stel. Die party se sekretaris-generaal, Brett Herron, sê die onlangse saak waarin die Nigeriese televisie-evangelis, Timothy Omotoso, vrygespreek is ná beskuldigings van verkragting en mensehandel, het die groot mislukkings in die hantering van sulke sake uitgelig:
# Die polisie stel ondersoek in na Woensdag se skietery by die Nyanga-taxistaanplek in Kaapstad waarin Santaco in die Wes-Kaap se lid van die provinsiale uitvoerende komitee, Mongi Titi, doodgeskiet is. Die taxi-organisasie veroordeel die sluipmoord en versoek enigiemand met inligting om die polisie by te staan. Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die motief is onbekend. Santaco doen verder ‘n beroep op kalmte en sê Titi sal onthou word as ‘n toegewyde leier wat daartoe verbind was om die taxibedryf in die provinsie te verenig en as beroep te vestig.
# Rusland se hoogste hof het die Taliban se klassifikasie as ’n terreurorganisasie verwyder. Dit is ’n simboliese gebaar wat daarop gemik is om vriendskapsbande met Afghanistan se de facto-regeerders te bou. Die Islamitiese groep het in Augustus 2021 beheer in Afghanistan oorgeneem toe Amerikaanse magte, wat die land se internasionaal-erkende regering ondersteun het, onttrek het. Moskou, wat die Amerikaanse onttrekking as ’n “mislukking” bestempel het, het sedertdien stappe gedoen om betrekkinge met die Taliban te normaliseer, en sien hulle as ’n potensiële ekonomiese vennoot en bondgenoot in die stryd teen terreur.
# Rugby: Junior Springbok-hoofafrigter, Kevin Foote, het ‘n mededingende Junior Springbok-span van 31-spelers vir volgende maand se Onder-20-Rugbykampioenskap in Gqeberha aangewys. Vyf spelers wat reeds vir die Junior Bokke gespeel het, is ingesluit. Dit sluit drie spelers in wat verlede jaar aan die eerste-Suidelike Halfrond-toernooi in Australië deelgeneem het. Losvoorspeler Batho Hlekani, skrumskakel Haashim Pead, en agterspeler JC Mars is die drie wat hul tweede Rugbykampioenskap sal speel, terwyl losvoorspeler Wandile Mlaba en stut Herman Lubbe die twee ander terugkerende Junior Bokke is.
# En ter afsluiting, die Stad Kaapstad het sy steun aangekondig vir sewe plaaslik vervaardigde rolprente deur sy eerste Kaapstadse Filmfonds. Die projek is in vennootskap met die organisasie van onafhanklike rolprentvervaardigers van stapel gestuur, en het ten doel om die stad se rolprentbedryf ‘n hupstoot te gee en werksgeleenthede te skep. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê die uitgesoekte projekte sluit vollengte, dokumentêre en animasie-rolprente in om die stad se uiteenlopende stories en talent ten toon te stel:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….