Nuus 18:00
BULLETIN 17 April 6 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Sarah Baartman-sentrum is onder 32 projekte wat ’n nuwe Openbare Werke-eenheid gaan versnel
# Die DA eis antwoorde nadat 5-miljoen-rand betaal word aan geskorste Omgewingsake-personeel
# En, die Staatsdiensvakbond beskuldig die Departement van Justisie dat hulle wangedragsake oordryf
# Die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, het ‘n nuwe spesiale en strategiese eenheid aangekondig om 32 projekte wat tot stilstand gekom het te voltooi, insluitend die Sarah Baartman-gedenksentrum in Hankey, in die Oos-Kaap. Die eenheid sal elke twee weke verslag doen oor die vordering om vinnige afhandeling te verseker. Macpherson sê die vertragings by die sentrum is ‘n nasionale verleentheid. ‘n Nuwe kontrakteur word binnekort verwag, en die projek behoort binne 12 maande voltooi te wees:
# Die DA in Gauteng beskuldig die Gautengse Departement van Omgewingsake dat hy meer as vyfmiljoen-rand bestee het aan vier geskorste werknemers. Jade Miller van die DA sê die skorsings hou verband met wangedrag, beweerde aanranding en misbruik van hulpbronne. Miller sê een werker is al meer as drie jaar lank geskors. Sy sê die tug-appèlsake moet dringend afgehandel word, en waarsku die vertraging stel die omgewing en openbare gesondheid in gevaar:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling oorbeklemtoon gevalle van wangedrag om te lyk asof hulle streng dissipline toepas. Die vakbond beweer minister Mmamoloko Kubayi se verklaring oor die finalisering van 54 sake is misleidend, aangesien baie van die sake lank vertraag was en deel van ’n agterstand is. Hulle voer aan dat bewerings van bedrog en korrupsie dikwels nie bewys is nie. Claude Naiker van die vakbond sê hulle sal die wetlikheid van die afdankings hersien en regstappe doen indien nodig.
# Die Europese Sentrale Bank het vandag weer die rentekoerse verlaag te midde van vrese dat die Amerikaanse president Donald Trump se wisselvallige tariefaankondigings groei regoor die eurosone kan bedreig. Die bank se beleidmakers het besluit om die maatstaf-depositokoers vir die sesde keer na mekaar met ‘n kwart basispunt te verlaag, wat beteken dit is tans op 2,25-persent.
# Sokker: Liverpool se kaptein, Virgil van Dijk het hom tot die Engelse Premierliga-klub verbind deur ’n nuwe tweejaar-kontrak te onderteken. Die Nederlandse speler volg Mohamed Salah en maak ’n einde aan maande se spekulasie deur sy kontrak by Anfield te verleng. Van Dijk het ‘n belangrike bydrae gelewer om Liverpool weer ‘n topspan te maak sedert hy in Januarie 2018 van Southampton af daar aangekom het. Hy het in 314 wedstryde vir die klub gespeel en die Premierliga, Kampioeneliga, FA-beker, twee Liga-bekers, die UEFA-Superbeker en die Klubwêreldbeker gewen.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-77-sent teen die dollar, 21-rand-36-sent teen die euro en 24-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-113-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-309-dollar-31-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-4-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….