Nuus 15:00
BULLETIN 17 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Padongelukkefonds vra padgebruikers om hierdie ‘n Paasnaweek sonder enige padstertes te maak
# AfriForum oorhandig waterpistole aan Mchunu in verset teen die Veiligheidswetsontwerp
# En, ’n foto van negejarige seun wat albei arms verloor het in Gaza, wen 2025 se Wêreldpersfoto van die jaar
# Die Padongelukkefonds doen ‘n beroep op Suid-Afrikaanse padgebruikers om hierdie ‘n Paasnaweek sonder sterftes te maak deur die paaie verantwoordelik te gebruik. Paasnaweek 2024 het met 335 sterftes die hoogste Paasnaweek-sterftesyfer sedert 2019 aangeteken. ’n Woordvoerder van die fonds, McIntosh Polela, sê padongelukke en trauma lei tot verwoestende emosionele, sosiale en ekonomiese koste vir die slagoffers, hul gesinne en die land. Hy sê dat dit ‘n onmiddellike houdingsverandering van alle padgebruikers vereis:
# AfriForum het waterpistole oorhandig aan die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se kantoor in verset teen die voorgestelde konsepregulasies vir die Privaat Sekerheidsbedryf, omdat dit privaat beamptes sal ontwapen. Die burgerregtegroep het ook ‘n brief ingedien wat die wysigings ingevolge die Wet op die Regulering van die Privaat Sekerheidsbedryf teenstaan. Jacques Broodryk van AfriForum sê die voorstelle sal die bedryf lamlê, lewens in gevaar stel en is misleidend, gegewe die staat se afhanklikheid van privaat sekerheid:
# Die Amerikaanse minister van Buitelandse Sake, Marco Rubio, vergader vandag in Parys met die Franse president, Emmanuel Macron, oor ‘n wapenstilstand in Oekraïne terwyl Washington en Europa na gemeenskaplike grond soek om die vyandelikhede te beëindig. Hooggeplaaste Oekraïense amptenare is ook teenwoordig om afvaardigings van die Europese Unie en Amerika te ontmoet. Die Amerikaanse president, Donald Trump, se spesiale gesant in Oekraïne, Keith Kellogg, is ook daar, en die Amerikaanse gesant Steve Witkoff word ook verwag. Trump se skietstilstand-poging was nog vrugteloos ondanks sy beloftes van ‘n vinnige oplossing.
# Tennis: Lesia Tsurenko van die Oekraïne sê sy doen regstappe teen die Wêreld-vrouetennisvereniging weens beweerde mishandeling. In ’n plasing op X het die 35-jarige bewerings gemaak teen ’n naamlose uitvoerende beampte van die vrouetoer. Die wêreld-nommer-88 het die beampte van geestelike mishandeling beskuldig en gesê dit het daartoe gelei dat sy angsaanvalle gekry het, wat haar loopbaan belemmer het. Sy beweer sy het geen ondersteuning van die WTA ontvang nadat sy die mishandeling aangemeld het nie. Tsurenko sê die enigste manier om haarself te verdedig, is om geregtigheid in die hof te kry.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 21-rand-40-sent teen die euro en 24-rand-92-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-320-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-331-dollar-10-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-81-sent per vat.
# En laastens, die onuitwisbare beeld van ’n negejarige Palestynse seun wat albei arms verloor het tydens ’n Israelse aanval op Gaza-stad, het 2025 se Wêreld-persfoto van die Jaar-toekenning gewen. Die foto, geneem deur Samar Abu Elouf vir The New York Times, beeld Mahmoud Ajjour uit wat na Doha geneem is nadat ’n ontploffing verlede jaar een arm afgeruk en die ander vermink het. Die fotograaf is ook van Gaza en is self in Desember 2023 na veiligheid geneem. Sy beeld tans swaargewonde Palestyne in Doha uit.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….