Nuus 12:00
BULLETIN 17 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Die regering wens die publiek ’n veilige Paasnaweek toe
# Druk verkeerstoestande word van vandag op die N3-tolpad verwag
# En die Instituut vir Rasseverhoudinge gaan die DA, die VF Plus en die ACDP nader oor die skrapping van SEB-premies in verkrygingsbeleid
# Die regering wens Suid-Afrikaners hierdie Paasnaweek ‘n veilige, vreedsame en geseënde tyd saam met familie, vriende en geliefdes toe. Hy sê dis ʼn tyd van bepeinsing, hernuwing en geestelike verbintenis, maar ook ʼn tyd wanneer miljoene tussen provinsies reis. Die woordvoerder van die Regerings-kommunikasie- en onligtingstelsels, Phumeza Msileni, maan alle padgebruikers om voorkeur te gee aan veiligheid en nie te bestuur wanneer hulle dronk of moeg is nie:
Die N3-Tolpadkonsessie waarsku motoriste intussen om verkeersopeenhopings en stadiger reistye te verwag aan die begin van Paasnaweek. Die tolpad strek oor vier provinsies – Gauteng, die Vrystaat, Mpumalanga en KwaZulu-Natal – en is ‘n belangrike vervoer- en handelsroete. Die konsessie se woordvoerder, Thania Dhrooga, sê suidwaartse verkeersvolumes na KwaZulu-Natal behoort van 12-uur vandag toe te neem:
# Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê hy gaan aan die DA, die VF Plus en die ACDP skryf oor hoe belangrik dit is om voorskrifte oor swart ekonomiese bemagtiging in openbare verkrygingsbeleid te skrap. Die instituut het verlede week die EFF en die MK-party oor dieselfde kwessie genader. Hy sê die skrapping van hierdie beleid kan fiskale ruimte skep om die omstrede BTW-verhoging te vermy én die BTW-koers inderwaarheid tot 11,5-persent te verlaag.
# Rugby: Kaptein Nolusindiso Booi maak Saterdag geskiedenis wanneer sy die eerste Springbok-vrouespeler word wat in 50 toetse uitgedraf het. Suid-Afrika speel teen Spanje in Elche in hul eerste toets van die seisoen. Booi behaal dié prestasie nadat sy 15 jaar gelede, in 2010, haar buiging gemaak het. Prestasie-afrigter Swys de Bruin sê Booi is ʼn goeie voorbeeld vir almal wat by vrouerugby betrokke is:
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 21-rand-48-sent teen die euro en 24-rand-99-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-610-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-322-dollar-25-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 65-dollar-71-sent per vat.
# En laastens, ‘n gegradueerde van die Universiteit van die Wes-Kaap, Sanelisiwe Qayi, sê sy is vasberade om Suid-Afrikaanse howe meer toeganklik vir nie-Engelssprekendes te maak. Die 22-jarige van Laer Cala in die Oos-Kaap het onlangs Magna Cum Laude gegradueer met ‘n BA-honneursgraad in isiXhosa. Qayi se navorsing verken die rol van Afrika-tale in gekose Suid-Afrikaanse howe en vra noodsaaklike vrae oor regverdigheid en wan-kommunikasie wanneer Engels die regsproses oorheers. Sy sê wanvertolkling kan tot onreg lei.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….