Nuus 09:00
BULLETIN 17 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# ActionSA verwelkom die voorgestelde veranderings aan die geskiktheidskriteria vir toelaes
# Dali Mpofu sê hy is nie bekommerd oor die Regspraktykraad se ondersoek nie
# En die mediese gastoevoer by die Charlotte Maxeke-hospitaal is herstel
# ActionSA verwelkom die voorgestelde veranderings aan die kwalifiseringskriteria vir aansoekers vir die Maatskaplike Hulpverligtingstoelae. Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling stel veranderings voor aan die Wet op Maatskaplike Ondersteuning wat insluit die verwydering van die vrae oor inkomste in die aansoekvorm. Emma More van ActionSA sê talle mense wat dit verdien word op onbillike wyse uitgesluit vanweë een of ander finansiële ondersteuning, insluitend van familielede en vriende:
# Advokaat Dali Mpofu wat ‘n dissiplinêre verhoor vir wangedrag deur die Regspraktykraad in die gesig staar, sê die aanklagtes teen hom is polities gemotiveerd. Hy staan tereg op sewe aanklagte van die verbreking van die gedragskode vir regspraktisyns insluitend dat hy die beroep in oneer gebring het. Sommige van die aanklagte handel oor sy gedrag teenoor Hoofregter Mandisa Maya en die Gautengse Regter-president Dunstan Mlambo. Mpofu het aan die SABC gesê hy is nie bekommerd oor die aanklagte nie:
# Die Gautengse Gesondheidsdepartement sê die voorsiening van mediese gas by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal is herstel. Die mediese gas is gister afgesny as deel van die herstelwerk ná die verwoestende brand in April 2021. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê die pyplyn wat die mediese gas voorsien is suksesvol na ‘n nuwe lyn herlei:
# Die Palestynse militante groep Islamitiese Jihad het ’n video vrygestel van ’n lewendige Israeli-gyselaar, waarin hy ’n beroep doen op die Israelse regering en die Amerikaanse president Donald Trump om sy vrylating te bewerkstellig. Israelse media het hom geïdentifiseer as Rom Braslavski van Jerusalem, wat deur Hamas-geleide militante by die Nova-musiekfees ontvoer is, tydens hul aanval op Israel op 7 Oktober 2023. In die byna sewe-minute video, lyk dit dat die gyselaar onder druk praat. Hy lig sy hemp op om krapmerke op sy vel te wys. Hy verwys ook na ’n tekort aan kos en water.
# Tennis: Die verdedigende kampioen, Casper Ruud, is deur na die Barcelona Ope se kwarteindronde ná ʼn naelskraapse oorwinning oor die Serwiër, Hamad Medjedovic. Die tweede gekeurde Noorweër wil die vierde man word wat die Barcelona-titel hierdie eeu suksesvol verdedig. Ruud speel in Vrydag se kwarteindronde teen Holger Rune nadat die Deen met Sebastian Baez van Argentinië afgereken het. Die derde gekeurde Stefanos Tsitsipas van Griekeland het die Amerikaner Sebastian Korda geklop om sy plek in die kwarteindronde teen die Fransman, Arthur Fils, te bespreek.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-84-sent teen die dollar, 21-rand-42-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-11-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-340-dollar-27-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 65-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….