Nuus 06:00
BULLETIN 17 April 6 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die minister van Hoër Onderwys bevestig die Walter Sisulu-slagoffer was ‘n student
# Die Grensbestuursowerheid verwag groter verkeersdruk by die Lebombo-grenspos
# En Serena Williams, Donald Trump en Ed Sheeran is onder TIME Magazine se 100 mees invloedryke mense
# Die minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Nobuhle Nkabane, het bevestig dat die jong man wat op die Walter Sisulu-universiteit se Mthatha-kampus doodgeskiet is, wel ‘n student by die instelling was. Dit volg nadat die universiteit verklaar het dat Sisonke Mbolekwa nie ‘n geregistreerde student of ‘n personeellid is nie. Nkabane het erken dat haar departement versuim het om die feite oor die student se registrasie na te gaan:
# Die voorsitter van die Gesamentlike Staande Komitee oor Verdediging, Malusi Gigaba, waarsku die volgehoue onderbefondsing van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag stel die grensveiligheid van die land in gevaar. Gigaba het in gesprek met SABC News gesê internasionale geloofwaardigheid en ekonomiese groei is nou in die gedrang omdat verdedigingsbesteding afgeneem het van meer as twee-persent van die BBP in 1996 tot op die huidige 0,7-persent. Hy beklemtoon dit beperk die SANW se vermoë om sy verpligtinge na te kom:
# Die Grensbestuursowerheid verwag hoë verkeersvolumes hierdie Paasnaweek. Kommissaris Michael Masiapato sê amptenare koördineer ontplooiings en monitor verkeerbeweging. Gevorderde tegnologie, insluitend KI-gedrewe hommeltuie met termiese beeldvorming en liggaamskameras, is ontplooi om toesig en deursigtigheid te verbeter. Hy doen ’n beroep op padgebruikers om verkeersreëls na te kom en geduldig te wees gedurende hierdie besige tyd:
# China het aan Amerika gesê hy moet ophou dreig en afpers nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, gesê het dit hang van Beijing af om na die onderhandelingstafel te kom om die beëindiging van hul handelsoorlog te bespreek. Trump het nuwe tariewe van tot 145-persent op talle Chinese invoere ingestel. Die woordvoerder van Buitelandse Sake, Lin Jian, sê as Amerika werklik die kwessie met dialoog en onderhandeling wil oplos, moet hulle ophou om druk uit te oefen en met China praat op grond van gelykheid, respek en wedersydse voordeel.
# Motorsport: Die MotoGP-kampioen, Jorge Martin, kan vir nog drie maande buite aksie wees nadat sy seisoen verder ontwrig is tydens die afgelope naweek se Grand Prix in Katar. Dit was die Spanjaard se eerste wedren vanjaar nadat hy drie keer beseer is tydens voorseisoense oefeninge, maar hy het van sy motorfiets geval en die Italianer Fabio Giannantonio het oor hom gery. Dit het gelei tot ‘n platgevalde long en elf gebreekte ribbes. Dokters het die renjaer van Aprilia beveel om twee weke in die Midde-Ooste te bly voor hy huis toe gaan.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-79-sent teen die dollar, 21-rand-44-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-141-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-351-dollar-35-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 66-dollar-21-sent per vat.
# En ten slotte: TIME Magazine het sy jaarlikse lys van 100 mees invloedryke mense vir 2025 vrygestel, wat fokus op die uitwerking, innovasie en prestasie van die wêreld se mees invloedrykes. Hierdie uitgawe het wêreldwyd vyf voorblaaie met aktrise Demi Moore, tennislegende Serena Williams, rapper en entrepreneur Snoop Dogg, musikant Ed Sheeran en Google DeepMind-stigter Demis Hassabis daarop. Ander wat die lys gehaal het, sluit in die Amerikaanse president Donald Trump, die Oscar-wenner Adrien Brody, die sjef Kwame Onwuachi, en die bekende chirurg en humanitêre dokter Robert Montgomery.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….