Nuus 17:00
BULLETIN 16 April 5 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ramaphosa sê die Oos-Kaap moet sy natuurlike sterkpunte benut vir ekonomiese groei
# Herstelwerk aan die Charlotte Maxeke Hospitaal word versnel met die vierde herdenking van die brand
# En ‘n tydelike stadion gaan ingespan word vir die krieket-kompetisie op die Olimpiese Spele in Los Angeles in 2028
# President Cyril Ramaphosa sê die Oos-Kaap moet sy natuurlike sterkpunte gebruik om inklusiewe ekonomiese groei aan te vuur. Hy het op ‘n hoëvlak-regeringsvergadering in Nelson Mandelabaai die provinsie se ryk natuurlike hulpbronne, lang kuslyn, vrugbare grond en sterk akademiese instellings uitgelig. Ramaphosa waarsku egter swak bestuur, swak infrastruktuur en korrupsie verhoed dat hierdie bates gemeenskappe kan bevoordeel:
# Herstelwerk by die Charlotte Maxeke Johannesburg Akademiese Hospitaal is in volle swang, vier jaar nadat ’n brand dele van die inrigting beskadig het. Die Gautengse Departement van Gesondheid het ’n beplande afsluiting van die mediese gastoevoer vir vandag aangekondig om vir sloopwerk voorsiening te maak. Die departement se woordvoerder, Motalatale Modiba, sê pasiënte wat van mediese gas afhanklik is sal op silinders geplaas word, en noodgevalle sal na nabygeleë hospitale verwys word:
# Die Vereniging vir Staatsamptenare verwelkom die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, se aanbeveling van leefstyloudits vir raadslede van die Onafhanklike Ontwikkelingstrust. Die Valke en PricewaterhouseCoopers ondersoek die trust oor bewerings van korrupsie betreffende ‘n suurstofaanlegprojek van 836-miljoen-rand. Claude Naicker van die vereniging sê korrupsie en wanadministrasie oor verkryging van dienste is groot probleme by talle instellings en departemente en kos die land jaarliks miljarde rand:
# Olimpiese Spele: ’n Tydelike stadion in Pomona sal gebruik word vir die krieketkompetisie tydens 2028 se Spele in Los Angeles. Die terrein in Fairground is ongeveer ’n uur se rit van die atlete-dorp in die Kaliforniese stad. Een van die redes vir die keuse is sodat die krieketspelers saam met die ander atlete kan tuisgaan. Fairground het sedert 1922 Los Angeles se Kermis aangebied, en dien ook as ’n stadion vir konserte, sport- en kultuurgebeurtenisse. Die bestaande pawiljoen, wat in 1932 gebou is, het sitplek vir agt-duisend-toeskouers.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-85-sent teen die dollar, 21-rand-42-sent teen die euro en 25-rand-1-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-721-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-305-dollar-84-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-74-sent per vat.
# En laastens, die veteraan Suid-Afrikaanse akteur Don Mlangeni-Nawa is op die ouderdom van 65 oorlede. Sy familie het vanoggend sy dood bevestig, maar nie die oorsaak bekend gemaak nie. Mlangeni-Nawa word onthou as ’n liefdevolle pa en kragtige storieverteller, en sy nalatenskap leef voort deur sy werk, insluitend ikoniese rolle in Isidingo, ‘Sgudi ‘Snaysi, en Hlala Kwabafileyo. Sy gesin het privaatheid gevra en sal binnekort die besonderhede van die gedenk- en begrafnisdiens aankondig.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….