Nuus 09:00
BULLETIN 3 Januarie 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Herbouwerk aan die Parlement begin in die eerste kwartaal vanjaar
# Suid-Afrika verwelkom een-duisend-703 nuwe babas op Nuwejaarsdag
# En, Suid-Afrika stuur ‘n boodskap van medelye aan Japan na die dodelike aardbewings
# Die Parlement sê herbouwerk aan geboue wat in 2022 deur die brand geraak is, sal vanjaar in die eerste kwartaal begin en behoort teen die einde van volgende jaar voltooi te wees. Dit was gister twee jaar sedert ‘n brand die gebou van die Nasionale Vergadering verwoes het. Dit sluit die saal en honderde kantore in. Die Parlement se woordvoerder, Moloto Mothapo, sê elke Suid-Afrikaner sal geleentheid kry om hul mening te gee en by te dra tot die besluitnemingsproses wat die ontwerp en funksionaliteit van hulle Parlement betref:
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, het die ma’s van die een-duisend-703 babas wat op Nuwejaarsdag by openbare gesondheidsgeriewe in die land gebore is, gelukgewens. Phaahla het pa’s en familielede aangemoedig om ma’s by te staan en sê ʼn gemeenskap is nodig om ʼn kind groot te maak. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale, sê die eerste babas is presies om middernag by die Philadelphia- en Seshego-hospitaal in Limpopo, die Mowbray-kraamhospitaal in die Wes-Kaap en die Mafikeng Provinsiale Hospitaal in Noordwes gebore:
# Die minister van Gesondheid, Joe Phaahla, sê intussen tienerswangerskappe is ʼn gemeenskapsprobleem in Suid-Afrika. Hy sê almal moet daarmee help omdat sommige tienerma’s maatskaplike probleme soos armoede en swak opvoeding in die gesig kan staar. Die departement se woordvoerder, Foster Mohale sê op Nuwejaarsdag het minstens 190 tieners ma geword en op Kersdag 145. Die jongste ma’s is 14-jariges van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap:
# Suid-Afrika het sy diepste meegevoel met Japan betuig ná ‘n reeks dodelike aardbewings die land se weskus op Nuwejaars-oggend getref het. Die aardbewing met ‘n omvang van 7,6 het tot groot lewensverlies en stygende getalle ernstig beseerdes gelei. Die minister van Internasionale Betrekkinge en Samewerking, Naledi Pandor, sê Suid-Afrika se gebede is met die mense van Japan, veral diegene wat geliefdes verloor het. Sy het ook die onvermoeide en voortgesette pogings van reddings- en noodpersoneel geloof.
# Krieket: Pakistan het vier paaltjies in sy openingsbeurt in Sydney verloor terwyl Australië goed op pad is om skoonskip te maak in die reeks. Die besoekers het teen etenstyd 75 vir vier gehad, met Pat Cummins wat twee paaltjies in vyf beurte ingeoes het en slegs 16 lopies afgestaan het. Die Ausies het vanoggend amok gemaak en sal waarskynlik hul 37-jarige openingskolwer David Warner instuur om die wenlopies vir hulle aan te teken in sy 112de en laaste toets op sy tuisveld. Australië het sy oorwinning in die reeks van drie toetse reeds in Melbourne verseker met hul sege in die tweede toets oor Kersfees.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-54-sent teen die dollar, 20-rand-32-sent teen die euro en 23-rand-43-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 42-duisend-285-dollar-51-sent. Die prys van goud is twee-duisend-en-64-dollar-60-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 75-dollar-69-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….