Goeie Nuus 14:00
BULLETIN 16 April 2 nm
Goeiemiddag, hier is jou Goeie Nuus:
# Die Suid-Afrikaanse Olimpiese gouemedalje-wenner, Caster Semenya, het die hoofrede gelewer op die Harvard Kennedy-skool in Amerika se Vroue in Mag-konferensie. Sy en die Amerikaanse Olimpiese wenner, Lauren Scruggs, het gesprek gevoer oor veerkragtigheid, doelwitte en identiteit. Semenya het in haar toespraak vertel hoe sy ondanks teenspoed onoorwinlik en veerkragtig bly. Sy beskryf die ervaring as ʼn droom wat waar geword het.
# ‘n Ballerina van Boksburg in Gauteng, Abigail Sandwell, is gekies om Suid-Afrika te verteenwoordig op vanjaar se Wêreldbeker-dans-eindronde in Spanje. Sy dans sedert die ouderdom van drie en is bekroon met die hoogste toekennings, insluitend goud op die Oos-Randse Dansfees en die hoofrol as die Juweel-feetjie in Sleeping Beauty. Sandwell het ‘n BackaBuddy-veldtog geloods met die hoop dat Suid-Afrikaners sal help om haar droom te verwesenlik om op die wêreldverhoog te dans. Die eindronde word van 3 tot 12 Julie gehou.
# Die Wes-Kaapse LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme, Ivan Meyer, sê Suid-Afrika Toerisme se jaarlikse prestasieverslag vir 2024 beklemtoon die sterk herstel van die bedryf in die provinsie. Dit toon ‘n toename van 6,8 persent in internasionale toeriste-aankomste in die provinsie. Meyer sê die verslag toon ook dat die Wes-Kaap uitstekend vaar om eerste keer-besoekers na Suid-Afrika te lok, met byna 49-persent van internasionale toeriste wat die land die eerste keer besoek:
# Die Stad Kaapstad se Permitkantoor vir Byeenkomste het toestemming gegee vir minstens 27 geleenthede die Paasnaweek. Dit sluit in die 30ste herdenkingskonsert van die wêreldbekende Italiaanse tenoor Andrea Bocelli, die Premierbeker-sokkertoernooi en die agtste Gesinsdag-wedloop. Die burgemeesterskomiteelid vir Veiligheid en Sekerheid, JP Smith, sê terwyl die metro vir al dié dinamiese geleenthede voorberei, word openbare veiligheid vooropgestel.
# En ten slotte: Die Johannesburgse Ontwikkelingsagentskap het Lorenzo Nassimbeni as die wenner van die Joburg stadsbiblioteek se Openbare Kunskompetisie aangewys. Die Suid-Afrikaanse argitek, konseptuele kunstenaar en opvoeder se werk verken idees deur tekeninge wat hy as die hooftaal van ontwerpdenke beskou. Die Stad Johannesburg se woordvoerder, Virgil James, sê Nassimbeni se ingrypings fokus op maatskaplike uitwerking met die klem op die stedelike en natuurlike landskap, terwyl dit steeds gemeenskapsgerig is en visueel sin maak:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….