Eko-minuut 13:30
BULLETIN 16 April 1:30 nm
Goeiemiddag, hier is jou Eko-minuut:
# Die Cape Leopard Trust het ‘n kamera-opname in die Piketberg- en Olifanstsrivierberge afgehandel en 31 wilde soogdierspesies opgespoor. Dit sluit in Kaapse jakkalse, swartrug-jakkalse en die Afrika-slangmuishond. Die opname het ook sku luiperds by 54 van 74 plekke aangemeld. Die opname wat meer as 154-duisend foto’s geneem het, bied lewensbelangrike insigte in die voorkoms van luiperds en natuurlewe-bedrywighede. Die trust onderneem ook gemeenskap-skakeling en bewaring-slypskole om bewustheid aan te wakker.
# Die regering het Inheemse Bomedag gevier met die aanplanting van 100 inheemse bome in nasionale botaniese tuine landwyd. Toe die eerste Inheemse Bomedag verlede jaar gevier is, was daar duisende deelnemers by 26 plekke in 12 Afrikalande. Die veldtog, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Bioverskeidenheids-instituut gelei word, is deel van ‘n vasteland-wye poging om plaaslik aangepaste, bedreigde en vrugdraende spesies te bewaar. Die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing het ‘n ambisieuse teiken gestel om vanjaar ‘n miljoen bome te plant.
# En ten slotte: Vier mense – twee Belgiese burgers, ‘n Viëtnamese burger en ‘n Keniaan – het skuld beken op aanklagte van die smokkelary van ongeveer vyf-duisend koningin-miere uit Kenia. Die miere, insluitend die skaars en unieke Groot Oesmier, is versteek in aangepaste proefbuise en spuite om lang tydperke te kan oorleef en lughaweskanderings te ontduik. Die Keniaanse Natuurlewe-diens sê die onderskepping ter waarde van 147-duisend-rand verteenwoordig ‘n beduidende deurbraak in die bekamping van bio-smokkelary. Die vier staan tereg op aanklagte van die onwettige besit van en onwettige handel in lewende wild.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….