Nuus 12:00
BULLETIN 16 April 12 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Noordwes se Gesondheidsdepartement begin armlastige begrafnisse vir onopgeëiste mynwerkers van Stilfontein
# ‘n Ontvoerde Amerikaanse pastoor word in Gqeberha gered
# En ‘n meningspeiling toon Suid-Afrika beweeg verby rassepolitiek
# Noordwes se Gesondheidsdepartement sê hy het nie ‘n ander keuse as om armlastige begrafnisse te hou vir die onopgeëiste liggame van onwettige mynwerkers van Stilfontein nie. Woordvoerder Tshegogatso Mothibedi het aan die SABC gesê slegs 12 van die 78 liggame wat uit Skag 11 gehaal is, is uitgeken deur familielede. Hy het ook bevestig DNS-monsters is van alle liggame geneem:
# ‘n Amerikaanse sendeling is gered nadat hy verlede week deur gewapende mans ontvoer is tydens ‘n erediens by die Fellowship Baptist Church in Motherwell, Gqeberha, in die Oos-Kaap. Die Valke se woordvoerder, Avele Fumba, sê hulle het inligting ontvang dat die 45-jarige Josh Sullivan by ʼn huis in KwaMagxaki in Gqeberha aangehou word. Hy sê drie vermeende ontvoerders is dood in ‘n skietery wat uitgebreek het tydens die reddingsoperasie deur verskeie wetstoepassingsagentskappe:
# Die Internasionale Energie-agentskap sê wêreldwye olie-aanvraag sal vanjaar laer wees as wat voorspel is, aangesien toenemende handelspanning ekonomiese vooruitsigte onder druk plaas. Amerika se invoere van olie, gas en geraffineerde produkte is wel van tariewe vrygestel, maar ander heffings het vrese oor inflasie en resessie veroorsaak en ruoliepryse na die laagste vlak in vier jaar afgedwing. Die agentskap het sy voorspelling vir olie-aanvraag met 300-duisend vate per dag verlaag, van meer as ‘n miljoen in Maart tot 730-duisend in April.
# Rugby: Die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha in die Oos-Kaap is volgende maand gasheer vir vanjaar se Onder 20-Rugbykampioenskap. Die tweede toernooi vir die Suidelike Halfrond bring die beste jong sterre van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië byeen. Australië het verlede jaar die eerste toernooi aangebied, waar Nieu-Seeland Suid-Afrika in die eindstryd verslaan het om die titel in te palm. Die junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê die toernooi is noodsaaklik vir hulle voorbereiding vir Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap in Italië in Julie.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-89-sent teen die dollar, 21-rand-49-sent teen die euro en 25-rand-9-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-157-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-314-dollar-20-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-81-sent per vat.
# En ten slotte: Die Instituut vir Rasseverhoudinge sê die ANC het kiesers vervreem met sy voortgesette navolging van ongewilde maatskaplik-ekonomiese beleid. Die DA het die ANC die eerste keer verbygesteek in die instituut se meningspeiling. Woordvoerder Hermann Pretorius sê een van die kenmerke van die jongste peiling is die idee dat politiek voortaan deur maatskaplik-ekonomiese faktore eerder as identiteitsgebaseerde griewe bepaal kan word. Hy sê die meningspeiling is uitgevoer tydens die stryd oor ‘n BTW-verhoging:
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….