Nuus 11:00
BULLETIN 16 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Amerikaanse pastoor wat in Gqeberha ontvoer is, word gered
# ‘n Onafhanklike komitee sal kerkvergrype in Suid-Afrika ondersoek
# En die Verenigde Nasies is bekommerd oor Israel se dodelike optredes in Libanon
# ‘n Amerikaanse sendeling is gered nadat hy verlede week deur gewapende mans ontvoer is tydens ʼn erediens by die Fellowship Baptist Church in Motherwell, Gqeberha, in die Oos-Kaap. Die Valke se woordvoerder, Avele Fumba, sê hulle het inligting ontvang dat die 45-jarige Josh Sullivan by ʼn huis in KwaMagxaki in Gqeberha aangehou word. Hy sê drie vermeende ontvoerders is dood in ‘n skietery wat uitgebreek het tydens die reddingsoperasie deur verskeie wetstoepassingsagentskappe:
# Die Kommissie vir die Bevordering en Beskerming van die Regte van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe het Musa Xulu aangestel om ‘n onafhanklike Artikel 22-komitee te lei, met die doel om waardigheid in die godsdienssektor te herstel. Dit volg op die vryspraak van die televisie-evangelis Timothy Omotoso en die voortgesette mishandeling in kerke. Die kommissie se voorsitter, Thoko Mkhwanazi-Xaluva, het bevestig dat die komitee landwyd sal beraadslaag en teen volgende jaar aanbevelings aan die Parlement sal voorlê:
# Die DA in Gauteng eis dat die Stad Johannesburg onmiddellik sy chaotiese rekeningstelsel regruk. Die metro het aan die begin van die 2024/25-boekjaar ʼn verminderde riooltarief van 314-rand-60-sent per eenheid vir eiendomme met meer as een wooneenheid van minder as 700-duisend-rand goedgekeur. Hierdie huishoudings betaal egter steeds die hoër tarief van 704-rand-47-sent per eenheid. Die DA sê hierdie selektiewe rekeningbepaling baat slegs die metro finansieel terwyl sukkelende huishoudings regstreeks daarvoor betaal.
# Die Verenigde Nasies se Menseregtekantoor sê Israelse militêre operasies in Libanon het kommer laat ontstaan oor toenemende skendings sedert die skietstaking in November verlede jaar in werking getree het. Minstens 71 burgerlikes is deur Israelse magte in Libanon doodgeskiet, insluitend 14 vroue en nege kinders. Meer as 92-duisend mense is steeds dakloos na die geweld. Die VN se Menseregte-woordvoerder, Thameen Al-Kheetan, sê al die partye moet die beloftes nakom wat hulle ingevolge die skietstaking gemaak het:
# Rugby: Die Nelson Mandelabaai-stadion in Gqeberha in die Oos-Kaap is volgende maand gasheer vir vanjaar se Onder 20-Rugbykampioenskap. Die tweede toernooi vir die Suidelike Halfrond bring die beste jong sterre van Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Argentinië en Australië byeen. Australië het verlede jaar die eerste toernooi aangebied, waar Nieu-Seeland Suid-Afrika in die eindstryd verslaan het om die titel in te palm. Die junior Springbokke se afrigter, Kevin Foote, sê die toernooi is noodsaaklik vir hulle voorbereiding vir Wêreldrugby se Onder 20-kampioenskap in Italië in Julie.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand teen die dollar, 21-rand-60-sent teen die euro en 25-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-724-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-392-dollar-11-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 63-dollar-56-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….