Nuus 09:00
BULLETIN 16 April 9 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Postbank skort die uitreiking van swart SASSA-kaarte op
# Cosatu sal nie oorhaastig besluit oor die SAKP se deelname aan die 2026-verkiesing nie
# En China se ekonomie het in die eerste kwartaal van 2025 met 5,4-persent gegroei
# Die maatskaplike sekerheidsagentskap SASSA het bevestig begunstigdes kan voortgaan om hul gouekaarte te gebruik totdat almal hul swartkaarte het. Dit volg nadat die Suid-Afrikaanse Reserwebank die Posbank opdrag gegee het om te verseker daar is nie onderbrekings in die betaling van toelaes tydens die oorgangsproses nie. Andile Tshona van SASSA moedig begunstigdes aan om by die bank van hul keuse toegang tot hulle geld te kry:
# Cosatu sê sy Spesiale Sentrale Uitvoerende Komitee het ingestem om nie ‘n haastige besluit te neem oor die SAKP se voorneme om in 2026 onafhanklik van die ANC aan die plaaslike regeringsverkiesing deel te neem nie. Alhoewel SAKP-lede as ANC-kandidate in verkiesings gestaan het, het die party nog nooit onder sy eie vaandel deelgeneem nie. Cosatu-woordvoerder Zanele Sabela sê die party het besluit om die ANC en SAKP na ʼn vergadering te nooi om hul programme en werkswyses vir die verkiesing uiteen te sit:
# Die GOOD-party sê geen kwessie by ‘n hoër onderwysinstelling moet ooit eskaleer tot die punt van geweld nie, wat nog te sê lewensverlies. Dit volg na ‘n persoon doodgeskiet en twee ander gewond is tydens studentebetogings Dinsdag by die Walter Sisulu-universiteit se Mthatha-kampus. Die slagoffer is na bewering deur ‘n koshuisbestuurder doodgeskiet. Die nasionale jeugvoorsitter van die GOOD-party, Kaden Arguile, sê hulle vra vir ‘n volledige ondersoek na die voorval:
# China se ekonomie het in die eerste drie maande vanjaar met 5,4-persent gegroei, wat hoër is as ekonome se verwagting van 5,1-persent. China hanteer tans die gevolge van ʼn toenemende handelsoorlog met Amerika. Chinese uitvoere na Amerika staar heffings van 144-persent in die gesig terwyl Amerikaanse uitvoere na China met 125-persent belas word. Ekonome van Morgan Stanley sê China se ekonomiese groei sal na verwagting in die tweede kwartaal skerp daal gegewe die geringe moontlikheid van bilaterale onderhandelinge om ʼn oplossing vir die tariefverhogings te vind.
# Sokker: Barcelona en Paris St-Germain is deur na die Kampioeneliga se halfeindronde. Die Katalaanse reuse het met 3-1 teen Borussia Dortmund verloor, maar is deur na die laaste vier op ʼn totale telling van 5-3 ná hul tweede kragmeting. Aston Villa het met 3-2 geseëvier in die tweede kragmeting van hulle kwarteindstryd teen PSG by Villa Park, maar is in totaal op 5-4 uitgeskakel. Barcelona kom in die halfeindronde óf teen Inter Milan óf Bayern Munich te staan, terwyl PSG teen die verdedigende kampioene, Real Madrid, of Arsenal sal speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-2-sent teen die dollar, 21-rand-57-sent teen die euro en 25-rand-22-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-727-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-280-dollar-14-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 63-dollar-87-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….