Nuus 07:00
BULLETIN 16 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Die Departement van Justisie dank 54 amptenare af weens korrupsie, bedrog en wangedrag
# Brandstofpryse gaan styg nadat Nersa tariewe goedgekeur het
# En Donald Trump dreig Harvard-universiteit met ’n opheffing van sy belastingvrystelling
# Die Departement van Justisie en Grondwetlike Ontwikkeling het 54 amptenare afgedank as deel van ‘n groot dissiplinêre proses. Dit volg ná die afhandeling van 164 uit 223 interne arbeidsverhoudingsake, wat oortredings soos korrupsie, bedrog, diefstal, oneerlikheid en ongemagtigde afwesigheid behels. Vyftien van die afdankings het tussen Januarie en April vanjaar plaasgevind. Die departement se woordvoerder, Terrence Manase, sê 15 sake is ook verwys vir strafregtelike vervolging:
# Die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika het ‘n 8,73-persent verhoging in Transnet se toelaatbare inkomste vir die 2025/26 finansiële jaar goedgekeur. Dit het ‘n 5,23-sent per liter styging in brandstofpryse tot gevolg. ‘n Verdere 5,71-persent verhoging in toelaatbare inkomste vir die 2026/27 finansiële jaar sal lei tot ‘n bykomende styging van 3,80-sent per liter. Nersa sê hierdie aanpassings is gemik om Transnet se pogings te ondersteun om pyplynveiligheid te verbeter en brandstofdiefstal te verminder.
# Solidariteit sê hy is bekommerd oor die regulasies oor billike indiensneming wat in die Staatskoerant gepubliseer is. Die regulasies sit onder andere uiteen waarna ‘n werkgewer moet oplet wanneer hy ʼn plan oor regstellende aksie opstel. Anton van der Bijl sê die regulasies vereis dat ʼn werknemer sektorale teikens moet haal volgens die minister se besluit. Hy sê tot op hede is geen sektorale teikens gestel nie wat nakoming onmoontlik maak:
# Die DA vra ʼn deeglike ondersoek na die noodlottige skietvoorval by die Walter Sisulu-universiteit. Een persoon is gister op die Mthatha-kampus doodgeskiet en twee studente gewond nadat ʼn koshuisbestuurder volgens berigte op studente losgebrand het wat oor onopgeloste koshuisprobleme betoog het. Yusuf Cassim van die DA sê die universiteit se bestuur moet aanspreeklik gehou word en die stelselkwessies wat die oproer veroorsaak, moet op die hoogste vlak hanteer word:
# President Donald Trump van Amerika sê Harvard-universiteit kan sy belastingvrystellingstatus verloor en as politieke party belas word. Die universiteit as opvoedkundige instelling is volgens die 1986 Interne Belastingkode uitgesluit van federale inkomstebelasting. Die Trump-administrasie het onlangs sowat 41,4-miljard-rand se veeljarige toelaes aan die universiteit bevries. Dit volg nadat hy geweier het om die regering se eise na te kom om onder meer ontslae te raak van programme oor diversiteit, gelykheid en insluiting. Trump beskuldig Harvard dat hy politieke, ideologiese en terrorisme-geïnspireerde idees nastreef.
# Olimpiese Spele: Die Internasionale Olimpiese Komitee het nog inligting bekendgemaak oor ʼn nuwe toernooi met gemengde gholf-spanne wat by die 2028 Los Angeles-Spele sal deelneem. Elke land mag net een span inskryf wat bestaan uit een man en een vrou wat reeds vir die mans en vroue se individuele Olimpiese gholfkompetisie gekwalifiseer het. Die toernooi sal oor 36 putjies plaasvind. Die byvoeging van die gemengdespan-toernooi is die eerste Olimpiese Gholfspan-kompetisie sedert die 1904-Spele.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 19-rand-1-sent teen die dollar, 21-rand-54-sent teen die euro en 25-rand-20-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 83-duisend-294-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-266-dollar-39-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-5-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….