Nuus 15:00
BULLETIN 15 April 3 nm
Goeiemiddag. Ek is……..
In die bulletin:
# Ontvoerders word gesoek nadat twee sakemanne in Midrand, Gauteng, gered is
# AfriForum sê Gauteng se inwoners dra onregverdig die skuld vir die waterkrisis wat deur munisipale verwaarlosing veroorsaak word
# En FNB se nuwe tolgeld-tegnologie sny kaartbedrog met 90-persent
# ‘n Soektog is van stapel gestuur na ‘n groep verdagtes wat gister twee sakemanne in Midrand in Gauteng gekaap en ontvoer het. Die slagoffers is gekaap op ‘n perseel wat motors verhuur en na bosse langs die R21 geneem, waar hulle gedwing is om hul bankkaarte en PINs te oorhandig. Polisiewoordvoerder Athlenda Mathe sê hulle gesteelde Range Rover is later in Tembisa gevind:
# AfriForum sê Gauteng se inwoners word onregverdig beskuldig van hoë waterverbruik, terwyl die werklike probleme lekkasies en swak instandhouding deur munisipaliteite is. Die organisasie sê dat Johannesburg, Tshwane en Ekurhuleni nie reageer het op sy versoeke om inligting oor watervermorsing nie. Dit volg op ’n waarskuwing van die minister van Water en Sanitasie, Pemmy Majodina, oor strenger beperkings indien waterverbruik nie daal nie. Marais de Vaal van AfriForum dreig met regstappe indien munisipaliteite aanhou om die krisis te ignoreer:
# Die minister van Vervoer, Barbara Creecy, het ‘n nuwe skip-na-kaai-hyskraan op die houerterminaal op Gqeberha se hawe in die Oos-Kaap bekendgestel. Dit maak deel uit van ‘n vlootvernuwingsbelegging van drie-miljard-rand. Die hyskraan sal na verwagting toerusting-beskikbaarheid verbeter, doeltreffendheid verhoog, en Suid-Afrika se wêreldwye mededingendheid versterk. Die hyskraan se spoed en akkuraatheid sal vasmeertye vir skepe verkort, wat die hawe se deurvragvermoë sal verhoog. Creecy het ook die hyskraan se omgewingsvoordele uitgelig, insluitend verminderde gasvrystelling:
# Tennis: Die tweemalige kampioen Iga Swiatek begin hierdie week haar kleibaanseisoen en wil haar derde Stuttgart-ope-titel in Duitsland en haar eerste kampioenskap van die jaar wen. Die Pool het tot dusver in haar loopbaan 100 wedstryde op klei gespeel en 89 daarvan gewen. Die verdedigende kampioen, Elena Rybakina van Kazakstan, speel nie in die toernooi nie. Ander gunstelinge is die wêreld se voorste vrouespeler, Aryna Sabalenka van Belarus, en die Russiese tiener Mirra Andreeva wat tans baie goed speel.
# Die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-87-sent teen die dollar, 21-rand-38-sent teen die euro en 24-rand-96-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-478-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-220-dollar-17-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-21-sent per vat.
# En laastens, FNB se nuwe aanlyn tolbetalingsmetode het tolhek-bedrog met meer as 90-persent verminder. Die bank se produk- en oplossingshoof, Netsai Ngidi, het aan Engineering News gesê die stelsel gebruik kaartskyfie-tegnologie vir onmiddellike, veilige betalings, wat die risiko van veegkaartbedrog uitskakel. Ngidi sê tradisionele metodes was geneig tot misbruik en kloning, en het die tegnologie se vermoë uitgelig om veiligheid te verbeter. Sy sê FNB beplan ’n landwye ontplooiing vanjaar wat motoriste, toloperateurs en finansiële instellings sal baat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….