Nuus 11:00
BULLETIN 15 April 11 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# BOSA kritiseer die vertraging met die bouwerk aan die Parlementsgebou
# Eskom bespoedig die ontplooiing van hernubare energie
# En ‘n Johannesburgse onderwyseres ontken skuld aan die verkragting en moord op haar kêrel se dogtertjie
# Build One South Africa het die minister van Openbare Werke en Infrastruktuur, Dean Macpherson, gekritiseer en sê hy aanvaar nie verantwoordelikheid vir die vertraging met die herbou van die Parlement in Kaapstad nie. Werk begin na verwagting volgende maand aan die Ou Volksraadgebou, wat erg beskadig is in ‘n brand op 2 Januarie 2022. BOSA se woordvoerder, Roger Solomon, sê die minister het erken hy het in November verlede jaar laas inligting hieroor ontvang en beskryf dit as pligsversuim:
# Eskom sê hy bly gefokus op ‘n gebalanseerde en uiteenlopende energie-kombinasie gegrond op steenkool- en kernenergie, terwyl gas, hidro- en hernubare krag stelselmatig deel sal word daarvan. Die kragvoorsiener het ‘n tender uitgereik vir privaat vennote in ‘n afsonderlike hernubare energie-onderneming om hernubare krag vinniger in werking te stel. Eskom se woordvoerder, Daphne Mokwena, sê daar is reeds minstens twee gigawatt se skoon-energieprojekte in die pyplyn vir volgende jaar:
# Die kleuterskoolonderwyseres Amber Lee Hughes het onskuldig gepleit op aanklagte van verkragting en moord in die Hooggeregshof in Johannesburg. Sy word aangekla dat sy haar kêrel se vierjarige dogtertjie wat ‘n leerder in haar klas was, Nada-Jane Challita, in Januarie 2023 seksueel aangerand en vermoor het. Die streekswoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, Phindi Mjonondwane, sê die hof het gehoor dat Hughes in ‘n verhouding met die kind se pa was en by hulle ingetrek het, met spanning wat skynbaar tot dreigemente teen die kind gelei het.
# President Donald Trump van Amerika se administrasie het ongeveer 41,4-miljard-rand in veeljarige toelaes, en sowat 1,1-miljard-rand in veeljarige kontrakwaarde by Harvard Universiteit bevries. Dit volg nadat die instelling ‘n lys eise van die Withuis oor beleidsveranderinge verwerp het. Die eise sluit in dat die universiteit toeslaan op anti-Semitisme en beweerde burgerregteskendings, asook die sluiting van programme oor verskeidenheid, gelykheid en inklusiwiteit. Harvard se president, Alan Garber, sê hulle het uitgebreide hervormings ingestel om anti-Semitisme teen te werk en beskryf die regering se eise as ʼn politieke foefie.
# Rugby: Die Nieu-Seelandse vleuel Mark Tele’a gaan die Blues die einde van die seisoen vir Japan verruil, wat beteken hy kan nie volgende jaar vir die All Blacks speel nie. Hy sal volgens berigte by Toyota Verblitz aansluit wat deur die gewese Nieu-Seelande afrigters Steve Hansen en Ian Foster gebrei word. Tele’a het 13 drieë vir die All Blacks gedruk in 19 toetse en was in 2023 Wêreldrugby se Deurbraakspeler van die Jaar. Nieu-Seeland verbied spelers sonder plaaslike kontrakte om vir die All Blacks te speel.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-83-sent teen die dollar, 21-rand-33-sent teen die euro en 24-rand-84-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-515-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-226-dollar-28-sent per fynons en die prys van Brent-ruolie 64-dollar-86-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….