Nuus 08:00
BULLETIN 15 April 8 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Minister Ramokgopa verwelkom die aanstelling van Mcebisi Jonas
# Untu dreig om te staak nadat die Transnet-loongesprekke in duie stort
# En rugby: Ikeys word as Varsitybeker-kampioene gekroon
# Die minister in die Presidensie verantwoordelik vir Beplanning, Monitering en Evaluering, Maropene Ramokgopa, het Mcebisi Jonas se aanstelling as Suid-Afrika se spesiale gesant na Amerika verwelkom. Die voormalige adjunkminister van Finansies sal die land se diplomatieke, handels- en bilaterale prioriteite bevorder. Hy sal ook onderhandelings lei, strategiese vennootskappe bou en met Amerikaanse regeringsamptenare en leiers in die privaat sektor vergader om die land se belange te bevorder. Ramokgopa sê Jonas is die regte persoon om die verhouding tussen Suid-Afrika en Amerika te probeer red:
# Transnet se grootste vakbond, die United National Transport Union, dreig om te staak nadat loononderhandelinge by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie Maandag misluk het. Untu verwerp Transnet se onveranderde aanbod van ‘n ses-persent-verhoging in die eerste twee jaar wat op 1 April begin, en 5,5-persent in die derde jaar. Die vakbond eis ʼn verhoging van tien-persent. Untu sê Transnet neem nie die ware en drukkende ekonomiese probleme van sy lede in ag nie.
# Die direkteur van Openbare Vervolging in Gauteng, Andrew Chauke, het die Gautengse Hooggeregshof se beslissing verwelkom dat twee apartheidspolisielede vir misdade teen die mensdom vervolg kan word. Die gewese Vlakplaas-askari, Ephraim Mfalapitsa, en oud-lid van die veiligheidstak, Christiaan Rorich, word beskuldig van die moord op vier studente in 1982. Regter Dario Dosio het bevind daar is geen sperdatum vir misdade teen die mensdom nie. Die Nasionale Vervolgingsgesag se woordvoerder, Phindi Mjonondwane, sê die twee voer aan die tyd waarin hulle vervolg moes word, het verstryk:
# El Salvador se president, Nayib Bukele, sê hy gaan nie ʼn man van Maryland wat verlede maand verkeerdelik gedeporteer is, na Amerika terugstuur nie. Die Amerikaanse regering het erken Kilmar Ábrego García se deportasie na ʼn tronk in El Salvador was ʼn administratiewe fout. Hy beweer egter ook dat hy ʼn bendelid is. Amerika se hoogste hof het die regering opdrag gee om Ábrego García se terugkeer te bewerkstellig. Bukele het by die Withuis gesê hy het nie die mag om die man terug te stuur nie:
# Rugby: Die Universiteit van Kaapstad se Ikeys het die Maties van die Universiteit Stellenbosch in die Varsitybeker-eindstryd op die Danie Craven-stadion in Stellenbosch met 44-21 afgeransel. Ikeys het die laaste twee eindwedstryde verloor maar die Maties in hul 150ste herdenkingsjaar van ʼn sege beroof. Die Ikey-vleuel, Ntokozo Makhaza, is aangewys as Speler wat Rock, nadat hy twee drieë gedruk, al sy skoppe oorgeskop en 32 punte vir sy span aangeteken het. Dis die Ikeys se derde Varsitybeker en eerste sedert 2014.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-88-sent teen die dollar, 21-rand-43-sent teen die euro en 24-rand-91-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 85-duisend-245-dollar. Die prys van goud is drie-duisend-224-dollar-66-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-44-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….