Nuus 07:00
BULLETIN 15 April 7 vm
Goeiemôre. Ek is……..
In die bulletin:
# Zane Dangor sê die land sal met die VSA praat oor wanindrukke
# Die Vereniging van Staatsamptenare is bekommerd oor die registrasie van verpleegpersoneel
# En duisende word voor Paasnaweek in hegtenis geneem in ‘n reuse-misdaadoperasie
# Die direkteur-generaal van Internasionale Betrekkinge en Samewerking en Suid-Afrika se G20-sjerpa, Zane Dangor, sê Suid-Afrika sal met Amerika vergader om waninligting oor die land reg te stel. Dit volg nadat president Donald Trump aangedui het hy gaan in November die G20-beraad in Suid-Afrika boikot en weer die land beskuldig het dat wit boere vervolg word. Dangor sê dis jammer die waninligting word aangedryf deur sommige Suid-Afrikaanse organisasies:
# Die Vereniging van Staatsamptenare sê hy is bekommerd oor die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging se voortslepende vertraging om die registrasie van verpleegkundiges wat einde 2024 gekwalifiseer het, af te handel. Die land beleef ‘n ernstige tekort aan verpleegkundiges en na raming is sowat 26-duisend bykomende verpleegkundiges nodig. Die raad sê die vertragings is dikwels die gevolg van laat voorleggings of aansoeke deur provinsiale departemente en opleidingsinstellings. Die vereniging sê registrasieprosesse moet vereenvoudig word, en proaktiewe maatreëls moet ingestel word om verpleegkundiges te werf en te behou.
# Meer as 13-duisend-800 verdagtes is in die afgelope week tydens Operasie Shanela in hegtenis geneem. Die polisie het ook 21 jeugdiges uit ‘n onwettige kamp in Mpumalanga gered en beslag gelê op meer as 100 vuurwapens. Bykomende arrestasies sluit in 164 vir verkragting en 170 vir moord. Die polisiewoordvoerder, Athlenda Mathe, sê operasies sal voor die Paasnaweek verskerp word om openbare veiligheid te verseker:
# Die Mxenge-stigting verwelkom die begin van ‘n geregtelike ondersoek na die dood van die anti-apartheidsregspraktisyn, Griffith Mxenge en die ANC-leier, hoofman Albert Luthuli. Die stigting se voorsitter en die ANC-adjunksameroeper in KwaZulu-Natal, Nomusa Dube-Ncube het in gesprek met Newzroom Afrika beklemtoon hoe belangrik geregtigheid is vir die individue wat ‘n deurslaggewende rol in Suid-Afrika se demokrasie gespeel het. Die saak is tot 17 Junie uitgestel:
# Die Verenigde Nasies se Handels- en Ontwikkelingsagentskap waarsku stygende wêreldtariewe kan die wêreld se armste ekonomieë verwoes. ‘n Nuwe verslag bepleit dat die armste lande vrygestel word van voorgestelde Amerikaanse tariewe, wat 57 handelsvennote teiken. Die agentskap sê hoewel hierdie lande se bydra tot Amerikaanse tekorte minimaal is, kan die tariewe, as dit ná 90-dae ingestel word, kwesbare ekonomieë verlam. Landbou-invoere, insluitend kakao en vanielje, kan ook prysstygings tot gevolg hê.
# Rugby: Die Haaie het ʼn toergroep vol Springbokke aangewys vir die volgende twee rondes van die Verenigde Rugbykampioenskap in Europa. Die span het die Springbokke Eben Etzebeth, Grant Williams, Lukhanyo Am en Aphelele Fassi ná beserings terug verwelkom. Die toergroep bestaande uit 16 voorspelers en 12 agterspelers is afrigter John Plumtree se sterkste span wat hy hierdie seisoen beskikbaar het. Die Haaie wat vierde op die VRK-punteleer is, speel Vrydag teen Edinburgh in Skotland en ʼn week later teen Ulster in Belfast, Ierland.
# En die finansiële aanwysers: Die rand verhandel teen 18-rand-90-sent teen die dollar, 21-rand-39-sent teen die euro en 24-rand-89-sent teen die pond. Bitcoin verhandel teen 84-duisend-890-dollar-10-sent. Die prys van goud is drie-duisend-219-dollar-30-sent per fynons en die prys van Brent ruolie 64-dollar-55-sent per vat.
Bly ingeskakel vir meer nuus……………….